Genesis 37:18-28

Genesis 37:18-28 AFR20

Hulle het hom van ver af gesien. Voordat hy naby hulle was, het hulle arglistig teen hom saamgespan om hom dood te maak. Hulle het vir mekaar gesê: “Kyk, daar kom daardie bobaasdromer aan! Kom dan nou, laat ons hom vermoor en in een van die opgaarputte gooi. Ons sê dan 'n roofdier het hom opgevreet. Dan sal ons sien wat word van sy drome!” Ruben het dit egter gehoor en hy het hom uit hulle hand gered. Hy het gesê: “Ons mag nie 'n mens doodslaan nie.” Ruben het daarby vir hulle gesê: “Moenie bloed vergiet nie. Gooi hom in hierdie opgaarput in die woestyn; maar moenie 'n hand aan hom slaan nie.” Dit was sodat hy hom uit hulle hand kon red om hom na sy vader terug te neem. Toe Josef by sy broers aankom, het hulle Josef se rok uitgetrek, die lang rok met moue wat hy aangehad het. Hulle het hom gevat en hom in die opgaarput gegooi. Die put was leeg – daar was nie water in nie. Hulle het gaan sit om brood te eet, en toe hulle opkyk, sien hulle daar kom 'n karavaan van Ismaeliete uit Gilead aan. Hulle kamele was gelaai met gom, balsem en hars. Hulle was op pad om dit na Egipte af te neem. Juda sê toe vir sy broers: “Wat wen ons as ons ons broer vermoor en dan nog sy bloed moet bedek? Kom ons verkoop hom aan die Ismaeliete. Ons moenie ons hand aan hom slaan nie; hy is immers ons broer, ons eie vlees.” Sy broers het na hom geluister. Toe die Midianitiese manne, die handelaars, daar verbykom, het hulle Josef opgetrek, hom uit die opgaarput gehaal en hom vir twintig silwerstukke aan die Ismaeliete verkoop, en dié het Josef na Egipte geneem.

Video vir Genesis 37:18-28