Genesis 37:1-8

Genesis 37:1-8 AFR20

Jakob het gewoon in die land waar sy vader 'n •vreemdeling was, in die land Kanaän. Hier volg die familiegeskiedenis van Jakob: Josef was as sewentienjarige seun 'n skaapwagter by die kleinvee saam met sy broers. Hy was as 'n jong seun saam met die seuns van Bilha en Silpa, sy vader se vroue. Josef het vir hulle vader die slegte gerugte oor hulle gebring. Israel was lief vir Josef, meer as vir al sy ander seuns, want hy was vir hom die seun van sy ouderdom. Hy het vir Josef 'n lang rok met moue gemaak. Sy broers het opgemerk dat hulle vader lief was vir hom, meer as vir al sy broers. Hulle het 'n weersin in hom gekry, en kon nie vriendelik met hom praat nie. Josef het 'n droom gehad, en hy het dit vir sy broers vertel. Hulle het toe 'n nog groter weersin in hom gekry. Hy het vir hulle gesê: “Luister asseblief na hierdie droom wat ek gehad het! Kyk, ons was besig om gerwe te bind in 'n stuk land, toe my gerf skielik regop kom en ook bly staan. En kyk, julle gerwe kom toe daar rondom myne saam en buig diep voor my gerf!” Sy broers het vir hom gesê: “Gaan jy regtig oor ons koning wees? Gaan jy regtig oor ons heers?” Hulle het toe 'n nog groter weersin in hom gekry weens sy drome en sy woorde.

Video vir Genesis 37:1-8