Genesis 18:1-15

Genesis 18:1-15 AFR20

Die HERE het aan Abraham verskyn by die akkerbome van Mamre terwyl hy op die hitte van die dag by die ingang van sy tent sit. Toe hy opkyk, sien hy skielik drie mans naby hom staan. Toe hy hulle sien, hardloop hy hulle tegemoet van die ingang van die tent af en buig laag teen die grond. Hy sê toe: “My heer, as ek guns vind in u oë, moet dan asseblief nie by u dienaar verbygaan nie. Laat daar 'n bietjie water gehaal word; en was u voete. Maak u dan gemaklik onder die boom. Laat ek 'n stukkie brood bring, en versterk u innerlike, waarna u verder kan gaan; want juis daarom het u by u dienaar langs gekom.” Hulle het geantwoord: “Maak gerus soos u sê.” Abraham gaan toe haastig in die tent in na Sara toe en sê: “Neem gou drie sea meel, gesifte meel; knie dit en bak roosterkoeke!” Daarna hardloop Abraham na die beeste, neem 'n jong bulkalf, met sagte, goeie vleis, en gee dit vir sy dienaar, en hy het dit gou voorberei. Hy neem toe botter, melk en die bulkalf wat voorberei is, en sit dit aan hulle voor. Terwyl hy by hulle onder die boom staan, het hulle geëet. Hulle het vir hom gevra: “Waar is Sara, jou vrou?” Hy het geantwoord: “Daar in die tent.” Toe sê een: “Ek sal beslis na jou terugkom wanneer die seisoen draai. Kyk, Sara, jou vrou, sal dan 'n seun hê.” Sara het gestaan en luister by die ingang van die tent, wat agter hom was. Abraham en Sara was al oud, gevorderd in jare. Vir Sara het wat maandeliks met vroue gebeur, reeds opgehou. Sy het in haar binneste gelag en gedink: “Kan ek nog seksuele begeertes hê, noudat ek al afgetakel en my man oud is?” Toe vra die HERE vir Abraham: “Waarom het Sara gelag en dink sy, ‘Sal ek werklik nog geboorte kan gee terwyl ek al oud is?’ Is enigiets te wonderbaarlik vir die HERE? Op die vasgestelde tyd wanneer die seisoen draai, sal Ek na jou toe terugkom, en dan sal Sara 'n seun hê.” Sara het dit egter ontken en gesê: “Ek het nie gelag nie,” want sy was bang. Hy het gesê: “Nee, maar jy hét gelag.”

Video vir Genesis 18:1-15

Gratis leesplanne en oordenkings oor Genesis 18:1-15