Galasiërs 5:5-26

Galasiërs 5:5-26 AFR20

Want dit is deur die Gees, op grond van die geloof, dat ons die vryspraak verwag waarop ons hoop. Want in Christus Jesus is besnedenheid of onbesnedenheid van geen belang nie, maar wel geloof wat deur liefde werksaam is. Julle het goed gehardloop. Wie het julle verhinder om aan die waarheid gehoorsaam te bly? Dié oorreding kom nie van Hom wat julle roep nie. 'n Bietjie suurdeeg maak al die deeg suur. Wat julle betref: Ek is in die Here daarvan oortuig dat julle nie anders as ek sal dink nie; maar die een wat julle in verwarring bring, sal die straf dra, wie hy ook al mag wees. En ek, broers, as ek steeds die besnydenis verkondig, waarom word ek dan nog vervolg? Dan is die struikelblok van die kruis immers uit die weg geruim. Ek wens diegene wat julle so opstandig maak, wil hulleself heeltemal ontman! Julle, broers, is tog tot vryheid geroep. Moet net nie julle vryheid misbruik, sodat dit aanleiding gee vir die vlees nie, maar dien mekaar deur liefde. Want die hele wet word in één uitspraak vervul: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” As julle mekaar byt en verslind, pas op dat julle nie deur mekaar verorber word nie! Maar ek sê: Leef deur die Gees, dan sal julle beslis nie die begeertes van die vlees uitvoer nie. Want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees begeer teen die vlees; die twee opponeer mekaar, sodat julle dit wat julle ook al wil, nie kan doen nie. As julle egter deur die Gees gelei word, staan julle nie onder die wet nie. Die praktyke van die vlees is goed bekend, naamlik onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloesie, woede, selfsug, tweespalt, skeuring, afguns, dronkenskap, gefuif, en hierdie soort dinge – waarteen ek julle nou weer waarsku, soos ek julle vroeër gewaarsku het, naamlik dat diegene wat sulke dinge doen, die •koninkryk van God nie sal beërf nie. Maar die vrug van die Gees is: liefde, blydskap, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing. Teen hierdie soort dinge is daar nie 'n wet nie. Almal wat aan •Christus Jesus behoort, het die vlees met sy hartstogte en begeertes gekruisig. Aangesien ons deur die Gees leef, laat ons ook met die Gees in pas bly. Laat ons nie verwaand wees, mekaar uittart of op mekaar jaloers wees nie.