Galasiërs 5:13-21

Galasiërs 5:13-21 AFR20

Julle, broers, is tog tot vryheid geroep. Moet net nie julle vryheid misbruik, sodat dit aanleiding gee vir die vlees nie, maar dien mekaar deur liefde. Want die hele wet word in één uitspraak vervul: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” As julle mekaar byt en verslind, pas op dat julle nie deur mekaar verorber word nie! Maar ek sê: Leef deur die Gees, dan sal julle beslis nie die begeertes van die vlees uitvoer nie. Want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees begeer teen die vlees; die twee opponeer mekaar, sodat julle dit wat julle ook al wil, nie kan doen nie. As julle egter deur die Gees gelei word, staan julle nie onder die wet nie. Die praktyke van die vlees is goed bekend, naamlik onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloesie, woede, selfsug, tweespalt, skeuring, afguns, dronkenskap, gefuif, en hierdie soort dinge – waarteen ek julle nou weer waarsku, soos ek julle vroeër gewaarsku het, naamlik dat diegene wat sulke dinge doen, die •koninkryk van God nie sal beërf nie.