Sê vir my, julle wat onder die gesag van die wet wil staan, luister julle dan nie na die wet nie? Want daar staan geskryf dat Abraham twee seuns gehad het, een by 'n slavin, en een by 'n vrou wat vry was. Die slavin se seun is op 'n natuurlike manier verwek, maar die vrou wat vry is se seun op grond van 'n belofte. Om dit allegories te stel: Hierdie twee vroue verteenwoordig twee verbonde: die een wat van die berg Sinai af kom, bring slawe voort; dit is Hagar. En Hagar staan vir die berg Sinai in Arabië; sy verteenwoordig die huidige Jerusalem, omdat sy en haar kinders slawe is. Maar die Jerusalem daarbo is vry; sy is ons moeder! Want daar staan geskryf: “Wees bly, onvrugbare vrou wat nie geboorte skenk nie! Jubel en juig, jy wat nie geboortepyne ken nie! Want die baie kinders van die verlate vrou is meer as dié van die vrou met 'n man.” En julle, broers, is, net soos Isak, kinders van die belofte. Maar, soos hy wat op 'n natuurlike manier verwek is, destyds die een vervolg het wat deur die werking van die Gees verwek is, so gebeur dit ook nou. Maar wat sê die Skrif? “Jaag die slavin en haar seun weg, want die seun van die slavin mag hoegenaamd nie saam met die seun van die vrou wat vry is, erf nie!” Daarom, broers, is ons nie kinders van die slavin nie, maar van die vrou wat vry is.
Lees Galasiërs 4
Deel
Vergelyk alle weergawes: Galasiërs 4:21-31
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's