Esegiël 6

6
1Die woord van die Here het tot my gekom: 2“ Mensekind, draai jou gesig na die berge van Israel en profeteer teen hulle. 3 Jy moet sê, ‘Berge van Israel, hoor die woord van my Heer, die Here. So sê my Heer, die Here, vir die berge en heuwels, die stroombeddings en valleie: “Kyk, Ek gaan 'n swaard oor julle bring, en Ek gaan julle offerhoogtes vernietig. 4 Julle altare sal verwoes word, julle wierookaltare sal stukkend gebreek word, en Ek sal julle gesneuweldes voor julle afgodsbeelde laat neerval. 5 Ek sal die Israeliete se lyke voor hulle afgodsbeelde neergooi.
“ ‘ “Ek sal julle beendere rondom julle altare strooi. 6Oral waar julle woon, sal die dorpe in puin lê, en die offerhoogtes verlate wees, sodat julle altare puin sal word en verlate lê, julle afgodsbeelde stukkend gebreek word en tot niet gaan, julle wierookaltare stukkend gekap word, en julle maaksels uitgewis word. 7 Die gesneuweldes sal tussen julle lê; dan sal julle besef dat Ek die Here is.
8“ ‘ “ Ek sal sommige laat oorbly wanneer julle, tydens julle verstrooiing in ander lande tussen die nasies, aan die swaard ontkom. 9 Dié van julle wat ontkom, sal aan My dink onder die nasies waarheen hulle in gevangenskap weggevoer is, en onthou dat Ek gebroke was deur hulle owerspelige harte wat van My afgewyk het, en hulle oë wat agter die afgodsbeelde aan gehoereer het. Hulle sal walg van hulleself oor die gruwels wat hulle aangerig het; hulle sal walg van al hulle afstootlike dade, 10en hulle sal besef dat Ek die Here is. Nie tevergeefs sê Ek dat Ek hulle hierdie onheil sal aandoen nie.”
11“ ‘So sê my Heer, die Here: “Klap jou hande en stamp jou voete, en sê, ‘Helaas!’ oor al die afstootlike, bose dade van die huis van Israel, want deur die swaard, hongersnood en pessiekte sal hulle val. 12Wie ver weg is – aan pessiekte sal hy sterf; wie naby is – deur die swaard sal hy val; wie oorbly, wie se lewe gespaar is – van honger sal hy omkom. Ek sal my woede op hulle laat uitwoed. 13Hulle sal besef dat Ek die Here is wanneer hulle gesneuweldes tussen hulle afgodsbeelde lê, reg rondom hulle altare, op elke hoë heuwel, op al die bergtoppe, onder elke skaduryke boom, onder elke blaarryke terebintboom, die plekke waar hulle offers met 'n aangename geur vir al hulle afgodsbeelde aangebied het. 14Ek sal my hand teen hulle uitstrek en die land 'n woesteny maak, 'n afgryslike plek, van die woestyn af tot by Ribla, oral waar hulle woon. Dan sal hulle besef dat Ek die Here is.” ’ ”

Tans Gekies:

Esegiël 6: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid