Esegiël 36:18-28

Esegiël 36:18-28 AFR20

Ek het my woede oor hulle uitgestort oor die bloed wat hulle in die land gestort het en oor die afgodsbeelde waarmee hulle dit besoedel het. Ek het hulle onder die nasies versprei, hulle in die lande verstrooi. In ooreenstemming met hulle optrede en hulle dade het Ek hulle geoordeel. Toe hulle aankom by die nasies waarheen hulle gegaan het, het hulle my heilige Naam ontheilig, deurdat daar van hulle gesê is, ‘Dit is die HERE se volk hierdie, maar uit sy land moes hulle padgee.’ Ek was begaan oor my heilige Naam, wat die huis van Israel so ontheilig het onder die nasies waarheen hulle gegaan het. “Daarom, sê vir die huis van Israel, ‘So sê my Heer, die HERE: “Nie ter wille van julle doen Ek dit nie, huis van Israel, maar slegs ter wille van my heilige Naam, wat julle ontheilig het onder die nasies waarheen julle gegaan het. Ek sal my groot Naam heilig, wat onder die nasies ontheilig is, wat julle onder hulle ontheilig het. Die nasies sal besef dat Ek die HERE is,” is die uitspraak van my Heer, die HERE, “wanneer Ek Myself deur julle as die Heilige betoon voor hulle oë. Ek sal julle uit die nasies neem, en julle bymekaarmaak uit al die lande. Ek sal julle na julle grond bring. Ek sal rein water oor julle sprinkel, en julle sal rein wees. Van al julle onreinhede en van al julle afgodsbeelde sal Ek julle reinig. Ek sal vir julle 'n nuwe hart gee, 'n nuwe gees sal Ek in julle binneste gee; Ek sal die hart van klip uit julle liggame verwyder en vir julle 'n hart van vlees gee. My Gees sal Ek in julle binneste gee. Ek sal daarvoor sorg dat julle my vaste voorskrifte volg en dat julle my bepalings nakom en uitvoer. Julle sal in die land woon wat Ek aan julle voorouers gegee het. Julle sal vir My 'n volk wees, en Ek sal vir julle 'n God wees.