Esegiël 15

15
Jerusalem as nuttelose hout
1 Die woord van die Here het tot my gekom:
2“Mensekind, wat gebeur met die hout
van die wingerdstok anders
as wat met al die ander hout gebeur,
met die takke wat aan die bome
van die bos was?
3Word van die wingerdstok hout geneem
om iets bruikbaars daarvan te maak?
Of neem mense 'n stuk daarvan
as 'n pen om enigiets aan op te hang?
4Kyk, dit is vir die vuur bestem,
as brandhout.
As die vuur sy twee punte verteer het
en sy middelstuk is verkool,
sal dit deug vir iets bruikbaars?
5Kyk, toe dit ongeskonde was,
kon daarvan nie iets bruikbaars
gemaak word nie.
Veel minder kan daar,
nadat 'n vuur dit verteer het
en dit verkool is,
iets bruikbaars van gemaak word.”
6“Daarom, so sê my Heer, die Here, ‘Soos die hout van die wingerdstok hoort by die hout van die bos wat Ek vir die vuur as brandhout gegee het, net so het Ek die inwoners van Jerusalem oorgegee. 7Ek draai teen hulle. Uit die vuur het hulle gekom, maar die vuur sal hulle verteer. Julle sal besef dat Ek die Here is wanneer Ek teen hulle draai. 8Ek sal die land 'n woesteny maak, omdat hulle troubreuk gepleeg het.’ Dit is die uitspraak van my Heer, die Here.

Tans Gekies:

Esegiël 15: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid