Esegiël 14:1-11

Esegiël 14:1-11 AFR20

Manne uit die oudstes van Israel het by my aangekom en voor my gaan sit. Die woord van die HERE het tot my gekom: “ Mensekind, hierdie manne het aan afgodsbeelde 'n plek gegee in hulle harte. Hulle sien nie af van die struikelblok wat hulle sondeskuld meebring nie. Moet Ek My enigsins deur hulle laat raadpleeg? Daarom, spreek hulle aan, sê vir hulle, ‘So sê my Heer, die HERE: “Enige persoon uit die huis van Israel wat aan sy afgodsbeelde 'n plek gee in sy hart en nie afsien van die struikelblok wat sy sonde meebring nie, en dan na 'n profeet toe kom – Ek, die HERE, voel Ek moet hom antwoord in ooreenstemming met die omvang van sy afgodery, sodat dit die huis van Israel aan die hart sal gryp, hulle wat almal van My vervreemd geraak het oor hulle afgodsbeelde.” ’ “Daarom, sê vir die huis van Israel, ‘So sê my Heer, die HERE: “Bekeer julle! Julle moet wegdraai van julle afgodsbeelde, en van al julle afstootlike dade moet julle afsien. Wanneer enigiemand uit die huis van Israel of uit die •vreemdelinge wat tydelik in Israel woon, van My vervreemd raak en sy afgodsbeelde 'n plek gee in sy hart, en nie afsien van die struikelblok wat sy sonde meebring nie, en dan na 'n profeet toe kom om by My vir hom antwoorde te soek, sal Ek, die HERE, voel Ek moet hom antwoord. Ek sal teen daardie man draai en van hom 'n voorbeeld maak, 'n aanleiding tot spotwoorde; Ek sal hom uit die midde van my volk verwyder. Julle sal besef dat Ek die HERE is. “ ‘ “ En wat die profeet betref – as hy verlei word en 'n uitspraak maak, is dit Ek, die HERE, wat daardie profeet verlei het. Ek sal my hand teen hom uitstrek en hom verdelg uit die midde van my volk Israel. Hulle sal hulle sondeskuld moet dra. Die straf vir die sondeskuld van die profeet sal dieselfde wees as die straf van die een wat raadpleeg, sodat die huis van Israel nie weer van My sal afdwaal nie, en hulleself nie weer verontreinig met al hulle oortredings nie. Dan sal hulle vir My 'n volk wees en Ek sal vir hulle 'n God wees. ” Dit is die uitspraak van my Heer, die HERE.’ ”