Eksodus 40:16-29

Eksodus 40:16-29 AFR20

Moses het dit toe gedoen – alles wat die HERE hom beveel het, het hy net so gedoen. In die tweede jaar, op die eerste dag van die eerste maand, is die tabernakel opgerig. Toe Moses die tabernakel opgerig het, het hy die voetstukke neergesit en die planke vasgesit. Hy het die dwarshoute aangesit en die staanders opgerig. Hy het die tent oor die tabernakel gespan en die tent se bedekking daaroor getrek, soos die HERE Moses beveel het. Toe het hy die Getuienis geneem en dit in die ark geplaas. Hy het die draaghoute langs die ark ingesteek en die versoendeksel bo-op die ark neergesit. Toe het hy die ark in die tabernakel ingeneem, die voorhangsel wat dien as gordyn, opgerig, en die ark met die Getuienis afgeskerm, soos die HERE Moses beveel het. Hy het die tafel in die Tent van Ontmoeting neergesit, in die tabernakel, aan die noordekant, buite die voorhangsel. Toe het hy die brood daarop gerangskik voor die HERE soos die HERE Moses beveel het. Hy het die menora in die Tent van Ontmoeting geplaas, in die tabernakel, aan die suidekant, teenoor die tafel. Moses het die lampe voor die HERE opgesteek, soos die HERE Moses beveel het. Hy het die goue altaar in die Tent van Ontmoeting neergesit voor die voorhangsel, en die geurige reukwerk daarop aan die brand gesteek, soos die HERE Moses beveel het. Toe het hy die gordyn by die ingang van die tabernakel geplaas. Die brandofferaltaar het hy by die ingang van die tabernakel, die Tent van Ontmoeting, geplaas, en die brandoffer en •graanoffer daarop gebring, soos die HERE Moses beveel het.

Video vir Eksodus 40:16-29