Eksodus 4:1-20

Eksodus 4:1-20 AFR20

Hierop het Moses geantwoord en gesê: “Maar as die Israeliete my nie glo nie, en hulle nie na my luister nie? As hulle dalk sê, ‘Die HERE het nie aan jou verskyn nie’?” Die HERE sê toe vir hom: “Wat het jy daar in jou hand?” Hy antwoord: “'n Staf.” Die HERE sê: “Gooi dit op die grond!” En toe hy dit op die grond gooi, word dit 'n slang! Moses het daarvoor teruggedeins. Die HERE sê toe vir Moses: “Steek jou hand uit en gryp dit aan die stert!” Moses het sy hand uitgesteek en dit gegryp. Toe word dit weer 'n staf in sy hand. “Dit is sodat hulle kan glo dat die HERE, die God van hulle voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob, aan jou verskyn het.” Die HERE het weer vir hom gesê: “Steek jou hand in die vou van jou kleed. ” Hy druk toe sy hand in die vou, en toe hy dit uittrek, was sy hand melaats, soos sneeu! Daarop sê die HERE: “Steek jou hand weer in die vou van jou kleed.” Hy het weer sy hand in die vou gesteek, en toe hy dit uit die vou uittrek, was dit weer soos die res van sy liggaam! “As hulle jou nie glo nie, en nie aandag gee aan die eerste teken nie, sal hulle die laaste teken glo. As dit dalk gebeur dat hulle selfs hierdie twee tekens nie glo nie, en nie na jou stem luister nie, skep dan van die Nyl se water en gooi dit uit op die droë grond. Die water wat jy uit die Nyl geskep het, sal bloed word op die droë grond.” Maar Moses het vir die HERE gesê: “Asseblief, my Heer! Ek is nie 'n man van woorde nie, nie in die verlede nie, en ook nie vandat U met u dienskneg gepraat het nie; want ek is swaar van mond en swaar van tong. ” Daarop sê die HERE vir hom: “Wie het 'n mond vir die mens beskik, en wie maak stom of doof, siende of blind? Is dit nie Ek, die HERE, nie? Gaan dan nou! Ek sal met jou mond wees en jou leer wat jy moet sê.” Maar hy sê: “Asseblief, my Heer! Stuur asseblief iemand anders.” Die toorn van die HERE het teen Moses ontbrand en Hy het gesê: “Is Aäron, die Leviet, nie jou broer nie? Ek weet dat hy welsprekend is. Wat meer is, kyk, hy is op pad om jou te ontmoet; en wanneer hy jou sien, sal sy hart verheug wees. Jy moet met hom praat en die woorde in sy mond lê. Ek sal met jou mond en met sy mond wees. Ek sal julle leer wat julle moet doen. Hy moet namens jou met die volk praat. Dit is hoe dit gaan gebeur – hy sal vir jou 'n mond wees en jy sal vir hom 'n god wees. Hierdie staf moet jy in jou hand neem. Dit is waarmee jy die tekens moet doen.” Moses het toe gegaan, en teruggekeer na Jetro, sy skoonvader, en vir hom gesê: “Ek wil graag gaan en na my volksgenote wat in Egipte is, terugkeer, sodat ek kan sien of hulle nog leef.” Jetro sê toe vir Moses: “Gaan in vrede!” Die HERE het vir Moses in Midian gesê: “Gaan terug na Egipte, want al die manne wat jou lewe gesoek het, is dood.” Moses neem toe sy vrou en sy seuns, sit hulle op 'n donkie en gaan terug na Egipteland. Moses het die staf van God in sy hand gehad.

Gratis leesplanne en oordenkings oor Eksodus 4:1-20