Eksodus 37

37
Verbondsark
1 Besaleël het die ark van doringhout gemaak, twee en 'n half el lank, een en 'n half el breed en een en 'n half el hoog. 2Hy het dit met suiwer goud oorgetrek, aan die binnekant en aan die buitekant, en hy het reg rondom 'n goue rand aangebring. 3Hy het vir die ark vier goue ringe aan die vier pote gegiet, twee ringe aan die een kant en twee aan die ander kant. 4Hy het draaghoute van doringhout gemaak en dit met goud oorgetrek. 5Hy het die draaghoute deur die ringe aan die kante van die ark gesteek om die ark daarmee te dra. 6Hy het 'n versoendeksel van suiwer goud gemaak, twee en 'n half el lank en een en 'n half el breed. 7Hy het twee gerubs van goud gemaak; met pletwerk het hy hulle gemaak, op die twee punte van die versoendeksel, 8een gerub op die een punt en een gerub op die ander punt. As 'n deel van die versoendeksel het hy die gerubs op die twee punte gemaak. 9Die gerubs is so gemaak dat hulle, met hulle vlerke oopgesprei na bo, die versoendeksel met hulle vlerke beskut het. Met hulle gesigte na mekaar, het die gerubs na die versoendeksel gekyk.
Tafel vir die vertoonbrode
10 Hy het ook die tafel van doringhout gemaak, twee el lank, een el breed en een en 'n half el hoog. 11Hy het dit met suiwer goud oorgetrek en reg rondom 'n goue rand aangebring. 12Hy het 'n strook van een handbreedte reg rondom gemaak en 'n goue randversiering reg rondom op die strook aangebring. 13Hy het vier goue ringe daarvoor gegiet en die ringe toe aan die vier hoeke van die vier pote vasgesit. 14Die ringe was naby die strook, as houers vir die draaghoute om die tafel mee te dra. 15Hy het die draaghoute om die tafel mee te dra, van doringhout gemaak en dit met goud oorgetrek. 16Hy het die toebehore wat op die tafel moet wees, gemaak: die skottels, bakke, komme en bekers waarmee •drankoffers uitgegiet word. Dit was van suiwer goud.
Kandelaar
17 Hy het die menora van suiwer goud gemaak. Met pletwerk het hy die menora – dit is sy voetstuk en sy staander – gemaak. Die kelke, blomknoppe en blomme was deel daarvan. 18Ses arms het uit die kante vertak – drie arms van die menora uit die een kant en drie arms van die menora uit die ander kant. 19Daar was drie kelke, gevorm soos amandelbloeisels, met 'n blomknop en blom op een arm, en drie kelke, gevorm soos amandelbloeisels, met 'n blomknop en blom op elke volgende arm. So was daar kelke aan die ses arms wat uit die menora vertak. 20Op die menora self was daar vier kelke, gevorm soos amandelbloeisels, met hulle blomknoppe en blomme. 21Vir die ses arms wat uit die staander vertak, was daar 'n blomknop onder aan die eerste twee arms, 'n blomknop onder aan die tweede twee arms, en 'n blomknop onder aan die derde twee arms. 22Die blomknoppe en arms was 'n deel van die staander, in sy geheel geplet uit suiwer goud. 23Hy het sewe lampe daarvoor gemaak. Die snuiters en bakkies daarvan was van suiwer goud. 24Van 'n kikkar suiwer goud het hy dit, en ook al die toebehore daarvan, gemaak.
Altaar vir die reukwerk en salfolie
25 Hy het die altaar vir die reukwerk van doringhout gemaak. Dit was 'n el lank en 'n el breed. Dit was vierkantig, en twee el hoog. Die horings was deel daarvan. 26Hy het dit met suiwer goud oorgetrek – die bokant, die kante reg rondom, en die horings. Hy het reg rondom 'n goue rand daarvoor gemaak. 27Twee goue ringe het hy daarvoor gemaak, onder die rand, weerskante aan die twee sykante, as houers vir die draaghoute, om dit daarmee te dra. 28Hy het draaghoute van doringhout gemaak en dit met goud oorgetrek.
29 Hy het ook die heilige salfolie en die suiwer geurige reukwerk gemaak – met die kundigheid van 'n salfmenger.

Tans Gekies:

Eksodus 37: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid