Eksodus 25:10-22

Eksodus 25:10-22 AFR20

“ Hulle moet 'n ark van doringhout maak. Dit moet twee en 'n half el lank, een en 'n half el breed en een en 'n half el hoog wees. Jy moet dit met suiwer goud oortrek, aan die binnekant en aan die buitekant moet jy dit oortrek. Dan moet jy aan die bokant, reg rondom, 'n goue rand aanbring. Jy moet vier goue ringe daarvoor giet en dit aan die vier pote heg – twee ringe aan die een kant en twee aan die ander kant. Jy moet draaghoute van doringhout maak en dit met goud oortrek. Dan moet jy die draaghoute deur die ringe aan die kante van die ark steek om die ark daarmee te dra. Die draaghoute moet in die ringe van die ark bly; dit mag nie daaruit verwyder word nie. “ Jy moet die Getuienis wat Ek vir jou sal gee, in die ark sit. Jy moet 'n versoendeksel van suiwer goud maak, twee en 'n half el lank en een en 'n half el breed. Dan moet jy twee gerubs van goud maak, met pletwerk moet jy hulle op die twee punte van die versoendeksel maak. Maak een gerub op die een punt en een gerub op die ander punt. As 'n deel van die versoendeksel moet jy die gerubs op die twee punte maak. Die gerubs moet so wees dat hulle, met hulle vlerke oopgesprei na bo, die versoendeksel beskut met hulle vlerke. Met hulle gesigte na mekaar moet die gerubs na die versoendeksel kyk. Jy moet die versoendeksel bo-op die ark neersit, en in die ark moet jy die Getuienis plaas wat Ek jou sal gee. Daar sal Ek jou ontmoet. Van bo die versoendeksel af, van tussen die twee gerubs wat op die ark met die Getuienis is, sal Ek met jou praat oor al die opdragte vir die Israeliete wat Ek jou gaan gee.

Video vir Eksodus 25:10-22