Eksodus 19:1-15

Eksodus 19:1-15 AFR20

In die derde maand ná die Israeliete se uittog uit Egipteland, op dieselfde dag, het hulle in die Sinaiwoestyn aangekom. Hulle het van Refidim af weggetrek, in die Sinaiwoestyn aangekom, en in die woestyn kamp opgeslaan. Israel het daar, reg voor die berg, kamp opgeslaan. Moses het opgeklim na God, en die HERE het van die berg af na hom geroep en gesê: “So moet jy vir die huis van Jakob sê, sodat jy die Israeliete kan inlig, ‘Julle het self gesien wat Ek aan die Egiptenare gedoen het, en hoe Ek julle op arendsvlerke gedra en julle na My gebring het. As julle dan nou getrou luister na my stem en my verbond nakom, dan sal julle onder al die volke my persoonlike eiendom wees, al behoort die hele aarde aan My. Vir My sal julle 'n koninkryk van priesters en 'n heilige nasie wees.’ Dit is die woorde wat jy aan die Israeliete moet oordra.” Moses het gegaan, die oudstes van die volk ontbied, en aan hulle al hierdie woorde wat die HERE hom beveel het, voorgehou. Die hele volk het eenparig geantwoord; hulle het gesê: “Alles wat die HERE gesê het, sal ons doen.” Moses het die volk se antwoord na die HERE teruggeneem. Die HERE het vir Moses gesê: “Kyk, Ek gaan na jou kom in 'n digte wolk, sodat die volk kan hoor wanneer Ek met jou praat en hulle jou dan ook altyd kan vertrou.” Daarop het Moses die antwoord van die volk aan die HERE oorgedra. Die HERE het vir Moses gesê: “Gaan na die volk en heilig hulle vandag en môre. Laat hulle hulle klere was. Hulle moet gereed wees op die derde dag, want op die derde dag sal die HERE, voor die oë van die hele volk, op die berg Sinai neerdaal. Baken rondom die berg 'n grens vir die volk af en sê vir hulle, ‘Wees versigtig dat julle nie teen die berg opklim, en selfs aan die voet daarvan raak nie. Elkeen wat aan die berg raak, moet beslis doodgemaak word. Geen hand mag aan so iemand raak nie, maar hy moet beslis gestenig of met pyle geskiet word. Of dit nou 'n dier of 'n mens is, hy mag nie bly leef nie. Wanneer daar lank op die •ramshoring geblaas word, mag hulle teen die berg opklim.’ ” Moses het van die berg afgekom na die volk. Hy het die volk geheilig, en hulle het hulle klere gewas. Hy het vir die volk gesê: “Wees gereed op die derde dag; moenie naby 'n vrou kom nie.”

Video vir Eksodus 19:1-15