EKSODUS 19:1-15

EKSODUS 19:1-15 NLV

Die Israeliete het in die woestyn van Sinai aangekom presies twee maande nadat hulle uit Egipte weg is. Nadat hulle by Refidim opgepak het, het hulle in die woestyn van Sinai aangekom. Israel het daar in die woestyn kamp opgeslaan, reg teenoor die berg. Moses het teen die berg uitgeklim na God toe. Die HERE het bo van die berg af met hom gepraat en vir hom gesê: “Sê vir die mense van Jakob en vir die volk van Israel die volgende: ‘Julle het gesien wat Ek met die Egiptenaars gemaak het en hoe Ek julle as’t ware op die vlerke van ’n arend opgelig het en hier na My toe gedra het. As julle regtig gehoorsaam is aan My en vashou aan my verbond met julle, sal julle my persoonlike volk wees tussen al die nasies van die wêreld. Die hele wêreld behoort aan My, maar julle sal in besonder die nasie wees wat aan My toegewy is. Julle sal my koninkryk van priesters wees, ’n nasie wat die HERE dien.’ Dit is wat jy vir die Israeliete moet sê.” Moses het toe van die berg af geklim en die leiers van die volk bymekaargeroep. Hy het vir hulle alles vertel wat die HERE hom beveel het. Die volk het toe soos uit een mond gesê: “Ons sal alles doen wat die HERE vir ons gesê het.” Moses het aan die HERE gaan rapporteer hoe die volk op sy opdrag gereageer het. Die HERE het toe vir Moses gesê: “Ek gaan in ’n swaar wolk na jou toe kom sodat die volk kan hoor hoe Ek met jou praat. Hulle sal jou dan altyd vertrou.” Nadat Moses aan die HERE oorvertel het wat die volk alles gesê het, het die HERE vir hom gesê: “Gaan weer terug na die volk toe en berei hulle vandag en môre voor om My te ontmoet. Hulle moet hulle klere was. Hulle moet reg wees vir die derde dag, want op daardie dag gaan Ek, die HERE, voor hulle oë na Sinaiberg toe afkom. Baken die berg reg rondom af. Waarsku hulle: ‘Pas op! Moenie op die berg klim nie. Enigeen wat in die afgebakende deel ingaan, sal beslis doodgemaak word. Niemand mag naby kom nie. As iemand dit doen, moet hy sonder meer met klippe doodgegooi word of met ’n pyl doodgeskiet word. Of dit nou ’n dier of ’n mens is, hy mag nie langer bly lewe nie.’ Wanneer die volk ’n trompet hoor blaas, moet hulle teen die berg begin opklim.” Moses is toe van die berg af na die volk toe. Hy het hulle gereed gekry om God te ontmoet. Hulle moes hulle klere was. Hy het vir hulle gesê: “Maak reg vir ’n belangrike gebeurtenis twee dae van nou af. Bly in hierdie tyd weg van seks af.”

Video vir EKSODUS 19:1-15