Dit het teen middernag gebeur. Die HERE het alle eersgeborenes in Egipteland getref, van die eersgeborene van die farao wat op die troon gesit het tot die eersgeborene van die krygsgevangene in die kerker, ook al die eersgeborenes van die vee.
Die farao het in die nag opgestaan, hy, al sy amptenare en al die Egiptenare. Daar was 'n harde geskreeu in Egipte, want daar was nie 'n enkele huis waar daar nie 'n dooie was nie. Hy het Moses en Aäron in die nag ontbied en gesê: “Maak gereed, trek weg onder my volk uit, julle en ook die Israeliete. Gaan dien die HERE soos julle gesê het. Neem julle kleinvee en ook julle grootvee, soos julle gesê het, en gaan! Maar seën my ook!” Die Egiptenare het by die volk daarop aangedring om gou te maak, sodat hulle hulle uit die land kon wegstuur; “want”, het hulle gesê, “almal van ons gaan sterf.”
Toe sit die volk die deeg, voor dit nog ingesuur is, op hulle skouers – hulle knieskottels was in hulle kledingstukke toegedraai. Die Israeliete het gemaak soos Moses gesê het, en hulle het van die Egiptenare silwer- en goue voorwerpe en klere geëis. Dit was die HERE wat gesorg het dat die Egiptenare die volk goedgesind is, en die Egiptenare het aan hulle eise toegegee. So het hulle buit geneem van die Egiptenare.
Die Israeliete het van Ramses af weggetrek op pad na Sukkot, ongeveer seshonderdduisend man te voet, afgesien van die afhanklikes. Ook 'n groot groep mense van ander afkoms het saam met hulle opgetrek; en ook nog kleinvee en beeste, baie groot troppe vee.
Die Israeliete het van die deeg wat hulle uit Egipte saamgeneem het, ongesuurde roosterkoeke gebak, want die deeg was nie ingesuur nie. Omdat hulle uit Egipte weggejaag is, kon hulle nie talm nie, en selfs nie vir hulle padkos voorberei nie.
Die tyd wat die Israeliete in Egipte gebly het, was vierhonderd-en-dertig jaar. Aan die einde van vierhonderd-en-dertig jaar, op presies dieselfde dag, het al die leërafdelings van die HERE uit Egipteland weggetrek. Dit was 'n nag waarin die HERE gewaak het om hulle uit Egipteland uit te lei. Daardie nag is 'n nag van waak tot eer van die HERE vir al die Israeliete deur hulle geslagte heen.
Die HERE het vir Moses en Aäron gesê: “Dit is die vaste voorskrif vir die Pasga: Geen buitelander mag daarvan eet nie. Maar enige slaaf wat deur iemand met silwer gekoop is, mag, nadat jy hom besny het, daarvan eet. Geen bywoner of huurarbeider mag daarvan eet nie. Dit moet in een huis geëet word. Jy mag nie van die vleis uit die huis na buite neem nie. 'n Been daarin mag julle nie breek nie. Die hele volksvergadering van Israel moet dit vier.
“ Wanneer 'n vreemdeling tydelik by jou is, en hy wil die Pasga vier tot eer van die HERE, moet al die manlike persone by hom besny word. Dan mag hy nader kom om dit te vier, en sal hy soos 'n gebore Israeliet wees. Enigiemand wat nie besny is nie, mag daarvan nie eet nie. Dieselfde wet geld vir gebore Israeliete en vir vreemdelinge wat tydelik tussen julle is.”
Al die Israeliete het dit gedoen. Soos die HERE aan Moses en Aäron opdrag gegee het, het hulle dit gedoen. Op daardie selfde dag nog het die HERE die Israeliete uit Egipteland uitgelei, leërafdeling vir leërafdeling.