Efesiërs 3:7-13

Efesiërs 3:7-13 AFR20

Van dié evangelie het ek 'n dienaar geword, ooreenkomstig die gawe van God se genade wat aan my betoon is volgens die werking van sy krag. Aan my, minder as die geringste van al die •heiliges, is hierdie genade geskenk, om aan die heidene die evangelie van die onpeilbare rykdom van Christus te verkondig, en om almal in te lig wat die uitvoering van die geheimenis is wat vir eeue lank verborge was in God, wat alle dinge geskep het. Gevolglik kan die ryklik geskakeerde wysheid van God nou deur die •kerk aan die owerhede en die magte in die hemel bekend gemaak word, ooreenkomstig sy ewige voorneme, wat Hy gemaak het in Christus Jesus, ons Here. In Hom het ons, deur ons geloof in Hom, 'n seker en vrymoedige toegang tot God. Daarom versoek ek julle om nie moedeloos te word as gevolg van my verdrukking ter wille van julle nie. Dit sal julle tot eer strek.