Prediker 10:1-11

Prediker 10:1-11 AFR20

'n Dooie vlieg laat die olie van 'n salfmenger stink en gis; 'n bietjie dwaasheid het groter gevolge as wysheid, as eer. Die hart van 'n wyse is na regs, maar die hart van 'n dwaas na links. Selfs op pad, soos 'n dwaas vorder, toon hy 'n gebrek aan insig; hy gee aan elkeen te kenne dat hy dwaas is. As die heerser sy humeur teenoor jou verloor, moenie jou pos verlaat nie, want kalmte maak ernstige oortredings onskadelik. Daar is 'n euwel wat ek gesien het onder die son, 'n mistasting wat by die heerser ontstaan: Die dwaas word in vele hoë posisies geplaas, terwyl rykes in lae posisies sit. Ek het slawe op perde gesien, en •hoë amptenare wat op die grond loop soos slawe. Wie 'n put grawe, kan self daarin val; en wie 'n muur afbreek – 'n slang kan hom pik. Wie klippe uitbreek, kan homself daarmee beseer; wie hout kloof, kan daardeur in gevaar kom. As die byl stomp word, en 'n mens die snykant nie geslyp het nie, moet hy meer kragte inspan. 'n Voordeel is om wysheid in te span. As die slang pik voor hy besweer is, is daar geen voordeel vir die besweerder nie.