Deuteronomium 33

33
1 Hier volg die seën waarmee Moses, die man van God, die Israeliete voor sy dood geseën het. 2 Hy het gesê:
“Van Sinai af het die Here gekom,
van Seïr af het Hy vir Israel
lig laat skyn,
laat straal van die berg Paran af.
By Hom was tienduisende heiliges;
in sy regterhand was 'n wet
van vuur vir hulle;
3 ja, Hy het mense lief.
Al die heiliges is in u hand,
hulle volg U op die voet;
elkeen het u uitsprake ontvang –
4 die wet wat Moses ons beveel het,
die eiendom van die
geloofsgemeenskap van Jakob.
5Die Here het in Jesurun
koning geword
toe die leiers van die volk
byeengekom het,
toe die stamme van Israel
bymekaar was.
6 “Mag Ruben leef;
mag hy nie sterf nie,
en sy manne nie min wees nie.”
7 Dit het hy oor Juda gesê:
“Luister, Here, na die stem van Juda;
na sy volk moet U hom bring,
met sy hande het hy
vir homself gestry;
wees vir hom 'n hulp
teen sy teenstanders.”
8 Oor Levi het hy gesê:
“U Tummim en Urim
is bedoel vir u gunsgenoot
vir wie U getoets het by Massa,
met wie U stryd gevoer het
by die water van Meriba;
9 hy wat oor sy vader
en moeder gesê het,
‘Ek sien hulle nie raak nie’,
wat sy broers nie erken het nie,
en sy seuns nie in ag geneem het nie.
Want hulle het u opdrag nagekom,
en hou by u verbond.
10Hulle sal vir Jakob beslissings leer,
ja, u wet vir Israel.
Hulle sal vir U reukwerk neersit
om te ruik,
ook 'n volledige offer op u altaar.
11Seën, Here, sy vermoë,
en aanvaar die werk van sy hande.
Verpletter die heupe van wie teen
hom opstaan, van sy haters,
sodat hulle nie staande
kan bly nie.”
12 Oor Benjamin het hy gesê:
“Die geliefde van die Here
mag dié veilig by Hom woon.
Die Here beskut hom altyd waar hy
tussen sy berghange woon.”
13 Oor Josef het hy gesê:
“Sy land word deur die Here geseën
met die kosbaarste gawes
van die hemelruim,
met dou en die •oerwater
wat onder lê;
14met die kosbare gawes
wat die son oplewer
en die kosbare gawes
wat die seisoene bied;
15met die beste
van die oeroue berge
en die kosbare gawes
van die ewige heuwels;
16met die kosbare gawes
van die grond en alles daarop.
Die guns van Hom
wat in die doringstruik was –
mag dit rus op die kop van Josef,
op die hoof van die prins
onder sy broers.
17Sy eersgebore bul is statig;
en sy horings is buffelhorings;
daarmee sal hy volke
saam wegstoot tot by
die uithoeke van die aarde.
Hulle is die tienduisende van Efraim,
hulle is die duisende van Manasse.”
18 Oor Sebulon het hy gesê:
“Sebulon, wees bly
wanneer jy uittrek om te veg,
ook jy, Issaskar, in jou tente.
19Hulle sal volke na die berg nooi;
daar sal hulle gepaste offers bring,
want hulle gaan die oorvloed
van die see
en die verborge skatte
in die sand geniet.”
20 Oor Gad het hy gesê:
“Hy wat vir Gad ruimte maak,
moet geprys word.
Gad leef soos 'n leeuwyfie:
Hy verskeur arm en skedel.
21Hy het vir homself die beste deel
uitgesoek;
ja, op daardie plek is die stuk grond
van 'n bevelvoerder
vir hom uitgehou
toe hy na die leiers van die volk
gekom het.
Hy het die geregtigheid
van die Here volbring,
sy beslissings in verband met Israel.”
22 Oor Dan het hy gesê:
“Dan is 'n leeuwelpie;
hy spring op uit Basan.”
23 Oor Naftali het hy gesê:
“Naftali is versadig
van die Here se guns,
en vol van sy seëninge.
Neem dan die weste
en die suide in besit.”
24 Oor Aser het hy gesê:
“Geseënd is Aser,
meer as die ander seuns;
mag hy die gunsteling
van sy broers wees,
sy voete in olie doop.
25Mag jou sluitbalke van yster
en brons wees,
en jou lewenskrag soos jou lewensjare.
26 “Jesurun, daar is niemand soos God nie,
wat as jou hulp deur die hemel ry,
deur die wolkehemel in sy verhewenheid.
27Die God van die voortyd
is 'n skuilplek,
en onder jou is ewige arms.
Hy het vyande voor jou verdryf
en gesê, ‘Delg uit!’
28“Israel het veilig gaan woon;
die fontein van Jakob
was afgesonder in 'n land
met koring en •nuwe wyn,
en sy hemel drup dou.
29Gelukkig is jy, Israel!
Wie is soos jy,
'n volk wat verlos is deur die Here,
die skild wat jou help,
en wat jou verhewe swaard is?
Jou vyande kom kruipend na jou,
en jy trap op hulle rûe. ”

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan