Daniël 7:9-18

Daniël 7:9-18 AFR20

“ Ek het gekyk totdat trone opgestel is, en 'n Oue van Dae plaasgeneem het. Sy kleed was wit soos sneeu, die hare van sy hoof soos suiwer wol. Sy troon was vuurvlamme, die wiele daarvan vlammende vuur. 'n Rivier van vuur het gevloei en voor Hom uit gestroom. Duisend maal duisende was tot sy diens, en tienduisend maal tienduisende het voor Hom gereed gestaan. Die regbank het plek ingeneem, en die •boekrolle is oopgemaak. “Ek het daarna nog bly kyk, weens die geraas van die verwaande woorde wat die horing besig was om kwyt te raak; ja, ek het bly kyk totdat die dier gedood is, sy liggaam verwoes is, en hy oorgegee is aan verbranding deur die vuur. Die oorblywende diere se heerskappy is hulle ontneem, en 'n langer lewe is vir hulle gegee, tot 'n tyd en 'n tydsduur verloop het. “Ek het in die nagtelike visioene gesien: “Kyk, met die wolke van die hemel was iemand aan die kom wat soos 'n mensekind was; tot by die Oue van Dae het hy gekom, voor Hom is hy gebring. Aan hom is heerskappy, eer en koningskap gegee – alle volke, nasies en taalgroepe dien hom. Sy heerskappy is 'n ewige heerskappy wat nie verby sal gaan nie, en sy koningskap is so dat dit nie vernietig sal word nie. “ Wat my, Daniël, betref, my gees was verontrus diep in my binneste, en die visioene in my kop het my verskrik. Ek het nader gegaan na een van dié wat gereed gestaan het, en hom die ware uitleg van al hierdie dinge gevra. Hy het met my gepraat en die uitleg daarvan aan my bekend gemaak, ‘Hierdie groot diere, vier in getal: Vier konings sal uit die aarde opstaan, maar die •heiliges van die Allerhoogste sal die koningskap ontvang, en hulle sal die koninkryk in besit neem vir ewig en altyd.’