Daniël 10:13-21

Daniël 10:13-21 AFR20

Maar die vors van die koninkryk van Persië het my een-en-twintig dae lank teengestaan. Maar kyk, Migael, een van die belangrikste vorste, het my te hulp gekom, en ek was oorbodig daar by die konings van Persië. Ek het toe gekom om jou insig te laat kry oor wat met jou volk sal gebeur aan die einde van die dae, want die visioen geld weer vir die toekoms.’ “Terwyl hy in dié trant met my praat, het ek my gesig na die grond gerig en stom geword. Kyk, toe het een met dieselfde voorkoms as mensekinders my lippe aangeraak. Daarna het ek my mond oopgemaak, gepraat en vir hom wat voor my staan, gesê, ‘My heer, as gevolg van die verskyning het 'n lamheid my oorweldig, en ek kon nie my kragte herwin nie. Hoe kon hierdie dienskneg van my heer dan met hierdie heer van my praat? En ek – van nou af bly daar geen krag oor in my nie; geen asem is meer oor in my nie.’ “Die een wat soos 'n mens gelyk het, het my weer aangeraak en my weer krag gegee. Hy het gesê, ‘Moenie bang wees nie, baie geliefde man! Vrede vir jou. Wees sterk, ja, wees sterk!’ “Terwyl hy met my praat, het ek my krag herwin en gesê, ‘My heer kan maar praat, want u het my versterk.’ “Hy sê toe, ‘Weet jy waarom ek na jou gekom het? Ek moet weldra terugkeer om te veg teen die vors van Persië. En wanneer ek daar uitkom, kyk, dan kom die vors van Jawan. Ek sal jou egter inlig oor wat opgeteken is in die geskrif van die waarheid. Daar is nie een wat my kragdadig ondersteun teen hierdie vorste nie, behalwe julle vors Migael.