Kolossense 3:11-15

Kolossense 3:11-15 AFR20

By die nuwe mens is daar nie onderskeidings soos Griek of Jood, besnedene of onbesnedene, barbaar of Skittiër, slaaf of vry persoon nie, maar Christus is alles en in almal. Daarom, omdat julle God se uitverkore •heiliges en geliefdes is, beklee julleself met innige meelewing, goedheid, nederigheid, sagmoedigheid en geduld. Verdra mekaar en, as enigiemand 'n klagte teen iemand anders het, vergewe mekaar. Soos die Here julle vergewe het, so moet julle ook vergewe. Maar beklee julle, bo en behalwe al hierdie dinge, met die liefde, wat die band is wat alles volmaak saambind. Verder, laat die vrede van Christus in julle harte regeer. As lede van een liggaam, is julle juis daartoe geroep. En wees dankbaar.