Amos 2:6-16

Amos 2:6-16 AFR20

So sê die HERE: “Oor drie oortredings van Israel, ja, oor vier, sal Ek dit nie herroep nie; omdat hulle regverdiges vir geld verkoop en behoeftiges vir 'n paar sandale. Hulle trap op die stof van die aarde, op die koppe van armes; en stoot weerloses uit die pad. 'n Man en sy vader gaan na dieselfde meisie, sodat hulle my heilige Naam ontheilig. Op klere wat as pand geneem is, strek hulle hulle uit langs elke altaar; en wyn wat as boetes geneem is, drink hulle in die huis van hulle God. Ek is die Een wat die Amoriete, so lank soos sederbome en so sterk soos eikebome, uitgeroei het voor hulle uit. Ek het hulle uitgeroei – hulle vrug bo en hulle wortels onder. Ek is die Een wat julle uit Egipteland laat optrek en julle veertig jaar lank deur die woestyn laat gaan het om die land van die Amoriete in besit te neem. Ek het van julle seuns as profete laat optree en van julle jong manne as •nasireërs. Is dit nie so nie, Israeliete?” is die uitspraak van die HERE. “ Maar julle het die nasireërs wyn laat drink; aan die profete het julle opdrag gegee, ‘Julle mag nie profeteer nie!’ Kyk, Ek bring julle tot stilstand waar julle is; net soos 'n wa oorvol van gesnyde graan tot stilstand kom. 'n Toevlugsoord vir die vinnige het verlore gegaan; die sterke sal nie sy krag kan inspan nie en die held nie sy eie lewe kan red nie. Die boogskutter sal nie staande bly nie; die vlugvoetige sal nie ontkom nie, en die perderuiter nie sy eie lewe kan red nie. Die dapperste onder die helde sal op daardie dag kaal wegvlug,” is die uitspraak van die HERE.