Handelinge 9:36-43

Handelinge 9:36-43 AFR20

In Joppe was daar 'n sekere vrouedissipel met die naam Tabita, wat as Dorkas vertaal is. Sy het baie goeie dade verrig en liefdadigheid bewys. In daardie dae het sy siek geword en gesterf. Hulle het haar gewas en in 'n bovertrek neergelê. Aangesien Lidda naby Joppe was, het die dissipels, toe hulle hoor dat •Petrus daar is, twee mans na hom gestuur met die versoek: “Kom sonder uitstel na ons toe!” Petrus het toe gereedgemaak en saam met hulle gegaan. Toe hy daar aankom, het hulle hom na die bovertrek geneem. Al die weduwees het huilend by hom kom staan, en vir hom die onder- en boklere gewys wat Dorkas gemaak het toe sy nog by hulle was. Nadat Petrus almal na buite gestuur het, het hy gekniel en gebid. Toe het hy hom na die liggaam omgedraai en gesê: “Tabita, staan op!” Sy het haar oë oopgemaak, en toe sy Petrus sien, het sy regop gaan sit. Hy het sy hand vir haar gegee en haar help opstaan. Toe het hy die •heiliges en die weduwees geroep, en haar lewend aan hulle getoon. Dit het dwarsdeur die hele Joppe bekend geword, en baie het tot geloof in die Here gekom. Petrus het nog 'n hele paar dae in Joppe by 'n sekere Simon, die leerlooier, gebly.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid