Saulus, wat nog steeds dreigemente en moord teen die dissipels van die Here aangeblaas het, het na die hoëpriester gegaan en van hom briewe gevra aan die •sinagoges in Damaskus, sodat, indien hy enige mense opspoor wat aanhangers van die Weg is, mans sowel as vroue, hy hulle geboeid na Jerusalem kon bring.
Terwyl hy onderweg was, en naby Damaskus kom, het 'n lig uit die hemel hom skielik omstraal, en hy het op die grond neergeval en 'n stem vir hom hoor sê: “Saul, Saul, waarom vervolg jy My?” Hy het gevra: “Wie is U, Here?” En Hy antwoord: “Ek is Jesus, wat jy vervolg. Maar staan op en gaan na die stad, en daar sal vir jou gesê word wat jy moet doen.” Die manne wat saam met hom gereis het, het sprakeloos gestaan, omdat hulle wel die stem gehoor het, maar niemand gesien het nie. Saulus het van die grond af opgestaan en, alhoewel sy oë oop was, kon hy niks sien nie. Hulle het hom aan die hand gelei en Damaskus binnegebring. Drie dae lank kon hy nie sien nie, en het hy nie geëet of gedrink nie.
Daar was 'n dissipel in Damaskus met die naam Ananias. In 'n visioen het die Here vir hom gesê: “Ananias!” En hy het geantwoord: “Hier is ek, Here.” Toe sê die Here vir hom: “Maak gereed en gaan na die straat bekend as Reguitstraat, en vra in die huis van Judas na iemand uit Tarsus met die naam Saulus. Want kyk, hy is besig om te bid, en het in 'n visioen gesien dat 'n man met die naam Ananias binnekom en hom die hande oplê om hom weer te laat sien. ” Ananias het geantwoord: “Here, ek het by baie mense van hierdie man gehoor, van al die kwaad wat hy u •heiliges in Jerusalem aangedoen het. En hier het hy volmag van die leierpriesters om almal wat u Naam aanroep, in boeie te slaan.” Maar die Here sê vir hom: “Gaan, want Ek het hom uitgekies as instrument om my Naam uit te dra na nasies en na konings en na Israel.