Die hoëpriester het toe gevra: “Is dit regtig so?” En Stefanus het geantwoord: “Broers en vaders, luister! Die God van heerlikheid het verskyn aan ons vader Abraham toe hy in Mesopotamië was, nog voordat hy hom in Haran gevestig het, en vir hom gesê, ‘Verlaat jou land en jou familie, en gaan na die land wat Ek jou sal wys.’ Toe het hy die land van die Galdeërs verlaat en hom in Haran gaan vestig, en daarvandaan het Hy hom, ná sy vader se dood, na hierdie land laat verhuis waarin julle nou woon. Hy het nie vir hom 'n erfdeel daarin gegee nie, nie eers 'n voetbreedte nie; maar Hy het beloof ‘om dit as besitting te gee aan hom en sy nageslag ná hom’, al het hy toe nog nie 'n kind gehad nie. God het dit so gestel, ‘Sy nageslag sal bywoners wees in 'n land wat aan ander behoort, en die inwoners sal hulle slawe maak en vierhonderd jaar lank laat swaarkry. Maar Ek sal die nasie straf wat hulle as slawe aanhou,’ het God gesê, ‘en daarna sal hulle uitgaan en My op hierdie plek dien’. En Hy het met hom die verbond van besnydenis gesluit; en so het hy Isak verwek en hom op die agtste dag besny, en so ook Isak vir Jakob, en Jakob die twaalf stamvaders.
“En omdat die stamvaders op Josef afgunstig was, het hulle hom verkoop om na Egipte geneem te word. Maar God was met hom, en het hom uit al sy beproewings gered, en aan hom guns en wysheid in die oë van die farao, die koning van Egipte, geskenk, en hy het hom as bestuurder oor Egipte en oor sy hele huishouding aangestel. Toe het daar hongersnood en groot ellende oor die hele Egipte en Kanaän gekom, en ons vaders kon geen kos kry nie. Maar toe Jakob hoor dat daar graan in Egipte is, het hy ons vaders die eerste keer daarheen gestuur. Met die tweede besoek het Josef hom aan sy broers bekend gemaak, en sy herkoms het ook aan die farao bekend geraak. Josef het toe mense gestuur en sy vader Jakob laat haal, en ook die hele familie van vyf-en-sewentig mense. Jakob het na Egipte afgegaan en daar gesterf, hy en ons vaders, en hulle is na Sigem gebring en neergelê in die graf wat Abraham met 'n bedrag silwer by die seuns van Hemor in Sigem gekoop het.
“Maar namate die tyd van die belofte nader gekom het wat God aan Abraham gemaak het, het die volk in Egipte in getal toegeneem en vermeerder, totdat daar 'n ander koning oor Egipte aan bewind gekom het wat nie van Josef geweet het nie. Hy het ons volk uitgebuit, en ons vaders wreed gedwing om hulle babas buite neer te sit, sodat hulle nie sou oorleef nie. In dié tyd is Moses gebore, en hy was uitsonderlik mooi in God se oë. Hy is drie maande lank in sy vader se huis versorg. Toe hy daarna buite neergesit is, het die farao se dogter hom aangeneem en hom as haar eie seun laat versorg. Moses is ook in al die wysheid van die Egiptenare opgelei, en was vaardig in woord en daad.
“ Maar toe hy veertig jaar oud was, het die begeerte in sy hart opgekom om sy broers, die kinders van Israel, op te soek. En toe hy sien hoe iemand aangerand word, het hy hom te hulp gesnel, en oor die man wat mishandel is, wraak geneem deur die Egiptenaar dood te slaan. Hy het gedink sy broers sou begryp dat God vir hulle deur sy hand redding sou bring, maar hulle het dit nie begryp nie. Die volgende dag het hy op twee afgekom juis terwyl hulle baklei, en hy het vrede tussen hulle probeer maak deur te sê, ‘Manne, julle is broers. Waarom doen julle mekaar kwaad aan?’ Maar die een wat sy volksgenoot kwaad aangedoen het, het hom weggestamp en gesê, ‘Wie het jou as leier en regter oor ons aangestel? Wil jy my ook doodmaak soos jy gister die Egiptenaar doodgemaak het?’ Toe Moses hierdie woorde hoor, het hy gevlug en 'n bywoner in die land Midian geword, waar hy twee seuns verwek het.