Handelinge 26:9-18

Handelinge 26:9-18 AFR20

Ek was self daarvan oortuig dat dit nodig is om baie vyandig op te tree teen die Naam van Jesus van Nasaret, wat ek ook inderdaad in Jerusalem gedoen het. Met die volmag wat ek van die leierpriesters ontvang het, het ek baie van die •heiliges in die tronk laat opsluit, en as hulle om die lewe gebring is, het dit met my instemming gebeur. Deur hulle dikwels te laat straf in al die •sinagoges, het ek hulle probeer dwing om te laster. Ek was so rasend van woede teenoor hulle dat ek hulle selfs in stede in die buiteland vervolg het.” “Terwyl ek op 'n keer, in opdrag van die leierpriesters, en met hulle volmag, juis hiervoor na Damaskus op reis was, o koning, het ek langs die pad helder oordag 'n lig uit die hemel gesien, helderder as die son, wat om my en my reisgenote skyn. Toe ons almal op die grond neerval, hoor ek 'n stem wat vir my in die Hebreeuse taal sê, ‘Saul, Saul, waarom vervolg jy My? Dit is vir jou swaar om teen die prikkels te skop.’ ‘Wie is U, Here?’ vra ek toe. En die Here het gesê, ‘Ek is Jesus vir wie jy vervolg. Maar kom op jou voete, staan regop, want hiervoor het Ek aan jou verskyn: om jou aan te stel as dienskneg en getuie van dit wat jy van My gesien het en van dit waaroor Ek nog aan jou sal verskyn. Ek sal jou red uit jou volk en van die heidene na wie Ek jou stuur, om hulle oë oop te maak, sodat hulle hulle van die duisternis na die lig kan draai, en van die mag van Satan na God, en ook dat hulle, deur geloof in My, vergewing van sonde en 'n erfdeel saam met die geheiligdes kan ontvang.’