Handelinge 24:10-15

Handelinge 24:10-15 AFR20

Toe die prokurator vir Paulus die teken gee dat hy mag praat, het hy geantwoord: “Omdat ek weet dat u al baie jare as regter optree oor hierdie volk, verdedig ek my saak met graagte. U kan u daarvan vergewis dat ek skaars twaalf dae gelede opgegaan het om in Jerusalem te aanbid. Hulle het my nie op die tempelterrein gevind waar ek besig was om met iemand te redeneer, of om 'n oproer onder die volk te veroorsaak in die •sinagoges of iewers in die stad nie. Hulle kan ook nie die dinge waarvan hulle my nou aankla, voor u bewys nie. Dit erken ek egter voor u: dat ek die God van ons voorvaders dien ooreenkomstig die Weg, waarna hulle as 'n sekte verwys. Ek glo alles wat volgens die Wet is en in die Profete geskryf staan. Ek vestig dieselfde hoop op God as waaraan hierdie mense ook vashou, naamlik dat daar 'n opstanding van die •regverdiges en ook die onregverdiges sal wees.