Daarna het Paulus Athene verlaat en na Korinthe gegaan. Daar het hy 'n Jood met die naam Akwila aangetref, 'n boorling van Pontus, wat kort tevore saam met sy vrou, Priscilla, daar aangekom het uit Italië, omdat Claudius beveel het dat alle Jode Rome moes verlaat. Paulus het na hulle gegaan, en omdat hy dieselfde ambag as hulle beoefen het – hulle was immers tentmakers van beroep – het hy by hulle gebly en saam met hulle gewerk. Elke Sabbat het hy in die •sinagoge geredeneer en probeer om Jode sowel as Grieke te oortuig.
En toe Silas en Timoteus van Macedonië af daar aangekom het, het Paulus hom op die verkondiging toegespits en teenoor die Jode getuig dat Jesus die Christus is. Maar omdat hulle aangehou het om hom teen te staan en om lasterlike dinge te sê, het hy die stof van sy klere afgeskud en vir hulle gesê: “Julle bloed is op julle eie kop – sonder skuld daaraan sal ek van nou af na die heidene gaan.” Hy is toe daarvandaan weg, en het na die huis gegaan van 'n man met die naam Titius Justus, wat God vereer het; sy huis was langs die sinagoge. Krispus, die leier van die sinagoge, het saam met sy hele huis tot geloof in die Here gekom. Ook baie van die Korinthiërs wat hom gehoor het, het gelowig geword en is gedoop. Die Here het een nag deur 'n visioen vir Paulus gesê: “Moenie bang wees nie, maar hou aan praat en moenie stilbly nie! Ek is immers met jou en niemand sal 'n vinger op jou lê om jou kwaad aan te doen nie, want in hierdie stad is daar baie mense wat aan My behoort.” Paulus het 'n jaar en ses maande lank daar gebly en hulle in die woord van God onderrig.
Toe Gallio die prokonsul van Agaje word, het die Jode egter eenparig teen Paulus opgetree en hom voor die regbank gebring en gesê: “Hierdie man oorreed die mense om God so te vereer dat dit in stryd met die wet is.” Net toe Paulus wou begin praat, het Gallio vir die Jode gesê: “O, Jode, as dit oor 'n onreg of ernstige misdaad gegaan het, sou ek met rede julle aanklag toegelaat het; maar aangesien dit 'n geskil is oor woorde en name en julle eie wet, moet julle maar self toesien. Ek wil nie daaroor regter wees nie.” En hy het hulle van die regbank weggejaag. Toe het almal vir Sostenes, die leier van die sinagoge, gegryp en hom voor die regbank geslaan. Gallio het hom egter aan niks hiervan gesteur nie.
Nadat Paulus nog 'n geruime tyd by die broers vertoef het, het hy afskeid geneem en per skip na Sirië vertrek, vergesel van Priscilla en Akwila. In Kenchreë het hy sy kop laat kaal skeer, omdat hy 'n gelofte afgelê het. Hulle het in Efese aangekom, waar hy sy reisgenote agtergelaat het. Self het hy egter die •sinagoge binnegegaan en met die Jode geredeneer. Alhoewel hulle hom versoek het om langer te bly, het hy nie ingestem nie, maar afskeid geneem en gesê: “Ek sal, as dit God se wil is, weer na julle kom.” Hy het toe van Efese af weggevaar. Nadat hy in Caesarea geland het, het hy die •gemeente gaan groet en toe na Antiogië vertrek.
Nadat Paulus 'n tyd lank daar gebly het, het hy weer vertrek, en van plek tot plek deur die landstreek van Galasië en deur Frigië gereis, en al die dissipels versterk.
'n Jood met die naam Apollos, 'n boorling van Aleksandrië, het in Efese aangekom. Hy was 'n welsprekende man, goed onderlê in die Skrifte. Hy het oor die Weg van die Here onderrig ontvang, en geesdriftig gepraat en deeglike onderrig gegee oor die dinge wat op Jesus betrekking het, alhoewel hy net die doop van Johannes geken het. Hy het met vrymoedigheid in die sinagoge begin preek. Toe Priscilla en Akwila hom hoor, het hulle hom huis toe geneem en vir hom die Weg van God nog duideliker uiteengesit. Toe hy na Agaje wou afreis, het die broers hom aangemoedig en vir die dissipels geskryf om hom gasvry te ontvang. Met sy aankoms daar was hy van groot hulp vir diegene wat deur die genade gelowig geword het, omdat hy die Jode kragtig in die openbaar teengespreek het, terwyl hy uit die Skrifte bewys het dat Jesus die Christus is.