HANDELINGE 18:1-28

HANDELINGE 18:1-28 NLV

Paulus het Atene verlaat en Korinte toe gegaan. Daar het hy Akwila ontmoet, ’n Jood wat in Pontus gebore is. Hy het kort tevore saam met sy vrou, Priscilla, uit Italië daar aangekom. Hulle is uit Italië weg omdat keiser Claudius beveel het dat alle Jode Rome moes verlaat. Paulus het hulle gaan opsoek. Hy het by hulle ingetrek en saam met hulle gewerk, want hulle was tentmakers net soos hy. Elke Sabbatdag het hy in die sinagoge met die mense geredeneer en sowel Jode as Grieke probeer oortuig. Nadat Silas en Timoteus van Masedonië af aangekom het, het Paulus al sy aandag bestee aan die prediking om die Jode daarvan te oortuig dat Jesus die Messias is. Toe hierdie Jode hom egter aanhou teenstaan en beledig, het hy die stof van sy klere afgeskud en vir hulle gesê: “Julle bloed is op julle eie kop. Ek is onskuldig. Van nou af spits ek my toe op die nie-Jode.” Hy is toe daar uit, en het na die huis reg langs die sinagoge gegaan. Dit het behoort aan Titius Justus, ’n nie-Jood wat die ware God aanbid het. Krispus, die hoof van die sinagoge, en sy hele huishouding het tot geloof in die Here gekom. Ook baie Korintiërs het in reaksie op die boodskap gelowig geword en is gedoop. Een nag het die Here deur ’n visioen vir Paulus gesê: “Moenie bang wees nie; hou aan met preek en moenie begin stilbly nie, want Ék is by jou. Niemand sal ’n hand op jou lê om iets slegs aan jou te doen nie, want in hierdie stad behoort baie mense aan My.” Paulus het die stad vir ’n jaar en ses maande lank sy basis gemaak en die mense onderrig in die woord van God. Toe Gallio egter goewerneur van Agaje geword het, het sommige Jode ’n verenigde front teen Paulus gevorm en hom voor die hof gedaag. Hulle het Paulus daarvan aangekla dat hy die mense “probeer oorhaal om God op maniere te vereer wat teen die wet is”. Net toe Paulus homself wou begin verdedig, sê Gallio vir die Jode: “As dit oor ’n onreg of ’n ernstige misdaad gegaan het, Jode, sou ek julle klag aangehoor het. Maar aangesien dit ’n twis is oor ’n boodskap en name en oor julle eie wet, moet julle self daaraan aandag gee. In sulke sake wil ek nie regter wees nie.” Hy het die hof toe verdaag. Die klaers het toe almal vir Sostenes, die hoof van die sinagoge, gegryp en hom net daar voor die regbank aangerand. Gallio het hom egter aan niks hiervan gesteur nie. Paulus het nog etlike dae in Korinte gebly, en toe van die gelowiges afskeid geneem. Hy het Sirië toe gevaar, en Priscilla en Akwila is saam met hom. (In Kengreë het hy sy hare laat skeer omdat hy ’n gelofte gedoen het.) By hulle aankoms in Efese het Paulus sy reisgenote by die hawe gelos en self die sinagoge besoek. Daar het hy met die Jode geredeneer. Hulle het hom gevra om langer te bly, maar hy wou nie. Toe hy vertrek, het hy gesê: “Ek kom na julle toe terug, as God wil.” Hy het toe van Efese af weggevaar en in Sesarea aan land gegaan. Daarvandaan het hy opgegaan en die gemeente in Jerusalem gaan groet, en toe Antiogië toe vertrek. Na hy ’n tyd lank in Antiogië gebly het, het hy weer vertrek. Hy het deur die landstreke Galasië en Frigië gereis, en oral die gelowiges geestelik versterk. Intussen het Apollos, ’n Jood wat in Aleksandrië gebore is, in Efese aangekom. Hy was ’n begaafde spreker en goed met skrifuitleg. Hy het in “Die Pad van die Here” onderrig ontvang en het met brandende geesdrif gepraat en ander noukeurig geleer van Jesus. Hy het egter net die doop van Johannes geken. Hy het self met vrymoedigheid in die sinagoge begin preek. Toe Priscilla en Akwila hom hoor, het hulle hom eenkant gevat en vir hom “Die Pad van God” nog duideliker uiteengesit. Toe Apollos na Agaje toe wou gaan, het die gelowiges hom aangemoedig. Hulle het vir die gelowiges in Agaje geskryf dat hulle hom moet ontvang. Daar aangekom, het hy baie beteken vir dié wat deur die genade van God gelowig geword het, want hy het die Jode in die openbaar kragtig weerlê en met die Skrif bewys dat Jesus die Messias is.