Handelinge 16:6-15

Handelinge 16:6-15 AFR20

Hulle het deur Frigië en die landstreek van Galasië gereis, omdat hulle deur die Heilige Gees verhinder is om die woord in Asië te verkondig. Toe hulle naby Misië kom, het hulle probeer om na Bitinië te gaan, maar die Gees van Jesus het hulle nie toegelaat nie. Hulle het toe by Misië verbygereis en afgegaan na Troas. Daardie nag het Paulus 'n visioen gehad. 'n Macedoniese man het daar gestaan en hom gesmeek met die woorde: “Kom oor na Macedonië en help ons!” Nadat hy die visioen gesien het, het ons dadelik probeer om na Macedonië te gaan, omdat ons oortuig was dat God ons geroep het om aan hulle die evangelie te verkondig. Toe ons van Troas af vertrek het, het ons reguit na Samotrake gevaar, die volgende dag na Neapolis, en daarvandaan na Filippi, wat 'n toonaangewende stad was in daardie deel van Macedonië, 'n Romeinse kolonie. In hierdie stad het ons 'n paar dae lank vertoef. Op die Sabbat het ons by die stadspoort uitgegaan na die rivier, waar ons vermoed het 'n bidplek was. Ons het gaan sit en met die vroue gepraat wat daar bymekaargekom het. 'n Vrou uit die stad Tiatira, 'n purperhandelaar met die naam Lidia, wat God vereer het, het ook geluister, en die Here het haar hart oopgemaak om ag te slaan op wat Paulus gesê het. Nadat sy en haar huishouding gedoop is, het sy by ons aangedring en gesê: “As julle daarvan oortuig is dat ek in die Here glo, kom bly dan in my huis.” En sy het ons oorgehaal.