Handelinge 16:25-34

Handelinge 16:25-34 AFR20

Om middernag was Paulus en Silas besig om te bid en tot lof van God te sing, en die gevangenes het na hulle geluister. Skielik was daar 'n hewige aardbewing, sodat die fondamente van die tronk geskud het. Al die deure het onmiddellik oopgegaan, en almal se boeie het losgegaan. Die tronkbewaarder het wakker geskrik, en toe hy sien dat die tronk se deure oop was, het hy sy swaard getrek en wou homself doodmaak, omdat hy gedink het dat die gevangenes ontsnap het. Maar Paulus het hard uitgeroep: “Moenie jouself leed aandoen nie, want ons is almal hier!” Die bewaarder het vir lig gevra, ingestorm en bewend voor Paulus en Silas neergeval. Hy het hulle na buite gelei en gesê: “Menere, wat moet ek doen om verlos te word?” En hulle het geantwoord: “Glo in die Here Jesus, en jy en jou hele huishouding sal verlos word.” Hulle het toe die woord van die Here aan hom en almal in sy huis verkondig. En hy het hulle op daardie uur van die nag saamgeneem en hulle wonde gewas. Hy en al sy mense is onmiddellik gedoop. Hy het hulle na sy huis geneem en 'n ete voorgesit. Hy en sy hele huishouding was jubelend, omdat hulle tot geloof in God gekom het.