Handelinge 16:22-30

Handelinge 16:22-30 AFR20

Die skare het toe ook teen hulle gedraai, en die stadsbestuurders het hulle klere laat afskeur en beveel dat hulle met stokke geslaan moet word. Nadat hulle met baie houe geslaan is, is hulle in die tronk gegooi, en is die tronkbewaarder opdrag gegee om hulle baie goed te bewaak. In die uitvoering van hierdie opdrag het hy hulle in die binneste deel van die tronk gegooi en hulle voete in die blok vasgeklem. Om middernag was Paulus en Silas besig om te bid en tot lof van God te sing, en die gevangenes het na hulle geluister. Skielik was daar 'n hewige aardbewing, sodat die fondamente van die tronk geskud het. Al die deure het onmiddellik oopgegaan, en almal se boeie het losgegaan. Die tronkbewaarder het wakker geskrik, en toe hy sien dat die tronk se deure oop was, het hy sy swaard getrek en wou homself doodmaak, omdat hy gedink het dat die gevangenes ontsnap het. Maar Paulus het hard uitgeroep: “Moenie jouself leed aandoen nie, want ons is almal hier!” Die bewaarder het vir lig gevra, ingestorm en bewend voor Paulus en Silas neergeval. Hy het hulle na buite gelei en gesê: “Menere, wat moet ek doen om verlos te word?”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid