Daar het sekere mense van Judea af gekom wat die broers aanhou leer het: “As julle nie besny word ooreenkomstig die gebruik van Moses nie, kan julle nie verlos word nie.” Aangesien hieroor meningsverskil ontstaan het, en Paulus en Barnabas met hulle 'n woordestryd gevoer het wat hoegenaamd nie onbenullig was nie, het hulle besluit dat Paulus en Barnabas en nog 'n paar ander uit hulle geledere na die •apostels en ouderlinge in Jerusalem moes opgaan oor hierdie strydvraag. Hulle is toe deur die •gemeente weggestuur, en het deur Fenisië en Samaria gereis en uitvoerig oor die bekering van die heidene berig, en sodoende groot vreugde aan al die broers verskaf. Toe hulle in Jerusalem aankom, is hulle deur die gemeente en die apostels en ouderlinge ontvang. Paulus en Barnabas het vertel wat God alles met hulle gedoen het. Sommige mense wat aan die •Fariseërs se party behoort en gelowig geword het, het egter opgestaan en gesê: “Hulle moet besny word en opdrag kry om die •Wet van Moses te onderhou.”
Die apostels en die ouderlinge het toe bymekaargekom om hierdie saak in oënskou te neem. Toe 'n hewige woordestryd ontstaan, het •Petrus opgestaan en vir hulle gesê: “Broers, julle weet dat God my al van die vroeë dae af onder julle uitgekies het, sodat die heidene deur my prediking die boodskap van die evangelie hoor en tot geloof kom. En God, die kenner van harte, het dit bevestig deurdat Hy die Heilige Gees aan hulle, net soos aan ons, geskenk het. Hy het geen onderskeid getref tussen ons en hulle nie, want Hy het hulle harte deur die geloof gereinig. Waarom wil julle God dan nou toets deur 'n juk, wat nie ons of ons voorvaders kon dra nie, op die dissipels se nekke te plaas? Maar ons glo dat ons op dieselfde manier as hierdie mense deur die genade van die Here Jesus verlos word.”
Toe het die hele vergadering stilgebly en na Barnabas en Paulus geluister, terwyl hulle vertel van al die tekens en wonders wat God deur hulle onder die heidene gedoen het. Toe hulle ophou praat, het Jakobus gesê: “Broers, luister na my. Simeon het verduidelik hoe God van die begin af toegesien het dat Hy uit die heidene 'n volk vir sy Naam sou verkry. Hiermee stem die woorde van die profete ooreen, soos daar geskryf staan:
“ ‘Daarna sal Ek terugkom
en Ek sal die vervalle huis
van Dawid weer opbou,
en Ek sal die bouvalle daarvan
herbou en dit herstel,
sodat die res van die mensdom
die Here kan soek,
ja, al die nasies oor wie my Naam
uitgeroep is.
So sê die Here, wat hierdie dinge doen’
wat van lank gelede bekend is.
“ Daarom oordeel ek dat ons dit nie moeilik moet maak vir hulle wat uit die heidendom na God draai nie, maar dat ons vir hulle moet skryf om weg te bly van dit wat deur afgode besoedel is, van hoerery, van wat verwurg is, en van bloed. Daar is tog van die vroegste geslagte af in elke dorp mense wat Moses verkondig en elke Sabbatdag in die •sinagoges voorlees.”