Handelinge 13:1-7

Handelinge 13:1-7 AFR20

In die plaaslike •gemeente in Antiogië was daar profete en leermeesters, onder andere Barnabas, Simeon bekend as Niger, Lucius van Sirene, Manaen, 'n jeugvriend van Herodes die tetrarg, en Saulus. Toe hulle besig was om die Here te dien en te vas, het die Heilige Gees vir hulle gesê: “Sonder Barnabas en Saulus vir My af vir die werk waartoe Ek hulle geroep het.” Toe die gemeente klaar gevas en gebid het, het hulle hulle die hande opgelê en weggestuur. So is Barnabas en Saulus deur die Heilige Gees gestuur, en hulle het afgereis na Seleukië en daarvandaan weggevaar na Ciprus. Toe hulle in Salamis aankom, het hulle die woord van God in die Joodse •sinagoges verkondig, met Johannes as hulle helper. Hulle het deur die hele eiland gereis tot in Pafos, waar hulle 'n sekere Joodse towenaar aangetref het, 'n vals profeet met die naam Barjesus. Hy was die metgesel van die prokonsul Sergius Paulus, wat 'n verstandige man was. Die prokonsul het Barnabas en Saulus laat roep, omdat hy graag die woord van God wou hoor.