Handelinge 12:5-19

Handelinge 12:5-19 AFR20

So is Petrus dan in die tronk bewaak, maar 'n volgehoue gebed tot God het uit die gemeente vir hom opgegaan. Die nag voordat Herodes hom wou voorbring, was •Petrus aan die slaap tussen twee soldate. Hy was met twee kettings geboei, en voor die deur het wagte die tronk bewaak. Skielik het 'n engel van die Here daar gestaan, en 'n lig het in die sel geskyn. Toe gee hy Petrus 'n stamp teen die sy, maak hom wakker en sê: “Staan gou op!” En die kettings het van sy hande afgeval. Die engel sê toe vir hom: “Omgord jou en trek jou sandale aan!” Hy het so gemaak. Daarop sê die engel vir hom: “Gooi jou bokleed om en volg my!” En hy het uitgegaan en hom gevolg, sonder om te besef dat wat deur die bemiddeling van die engel gebeur het, die werklikheid is. Hy het nog steeds gedink hy sien 'n gesig. Maar toe hulle by die eerste en die tweede wag verby was, het hulle gekom by die ysterpoort wat na die stad lei, en dit het vanself vir hulle oopgegaan. Toe hulle buitekant kom en een straat verder gestap het, het die engel hom meteens verlaat. Toe kom Petrus tot homself en sê: “Nou besef ek waarlik die Here het sy engel gestuur, en Hy het my gered uit die hand van Herodes en ook van alles wat die Joodse volk verwag het.” Met dié besef gaan hy toe na die huis van Maria, die moeder van Johannes, bekend as Markus, waar daar baie mense byeen was en gebid het. Toe hy aan die deur van die poort klop, het 'n diensmeisie met die naam van Rode gegaan om te antwoord. Sy het Petrus se stem herken, en uit pure vreugde nie die deur oopgemaak nie, maar binnetoe gehardloop en vertel dat Petrus voor die poort staan. Hulle het egter vir haar gesê: “Jy is mal!” Maar sy het volgehou dat dit so is. Toe sê hulle: “Dit is sy engel.” Petrus het egter aanhou klop, en toe hulle oopmaak, het hulle hom gesien, en hulle was verbaas. Maar hy het met 'n handgebaar vir hulle beduie om stil te bly en vir hulle beskryf hoe die Here hom uit die tronk uitgelei het. Toe sê hy: “Vertel dit aan Jakobus en die broers.” En hy het buitentoe gegaan en na 'n ander plek vertrek. Teen dagbreek was daar onder die soldate geen geringe opskudding oor wat dan van Petrus geword het nie. Herodes het hom laat soek, maar nie gekry nie, en nadat hy die wagte verhoor het, het hy opdrag gegee dat hulle tereggestel word. Hierna het hy van Judea na Caesarea gereis en daar gebly.