HANDELINGE 12:5-19

HANDELINGE 12:5-19 Bybel vir almal (ABA)

Die soldate het toe vir Petrus in die tronk toegesluit. Maar die gemeente het baie ernstig tot God gebid om vir Petrus te help. Die Paasfees was verby, en Herodes wou die volgende dag vir Petrus bring om voor die volk te staan. In die nag voordat Herodes dit wou doen, het hulle vir Petrus met kettings vasgemaak aan twee soldate, en hy moes tussen die soldate slaap. Daar was ook wagte wat die deur van die tronk opgepas het. Maar skielik het 'n engel van die Here by Petrus gestaan en 'n lig het in die tronk geskyn. Die engel het aan Petrus se sy geraak en hy het vir Petrus wakker gemaak en vir hom gesê: “Staan gou op!” Die kettings het afgeval van Petrus se hande. Die engel sê toe vir Petrus: “Maak jou belt vas en trek jou skoene aan!” Petrus het dit gedoen en die engel sê toe vir Petrus: “Trek jou bo-kleed aan en kom saam met my.” Petrus het uitgegaan en hy het saam met die engel gegaan. Petrus het nie besef dat dit alles regtig gebeur nie. Hy het gedink hy droom dat die engel dit doen. Hulle het verby die eerste en die tweede plek gegaan waar die wagte gestaan het, en toe kom hulle by die ysterhek waardeur 'n mens na die stad gaan. Die hek het self oopgegaan vir hulle. Hulle het uitgegaan en hulle het in 'n smal straatjie geloop, en toe het die engel skielik weggegaan van Petrus. Toe het Petrus verstaan wat regtig gebeur het en hy het gesê: “Nou weet ek waarlik dat die Here sy engel gestuur het en dat die engel my gered het van Herodes. Hy het my ook gered van alles wat die hele Joodse volk gedink het sal gebeur.” Petrus het toe verstaan wat gebeur het, en daarom het hy na die huis van Maria gegaan. Sy was die ma van Johannes, Johannes se ander naam was Markus. Baie mense het daar bymekaargekom en hulle was besig om te bid. Petrus het aan die deur van die huis geklop. 'n Vrou wat daar gewerk het, het kom kyk wie by die deur is. Die vrou se naam was Rodé. Toe sy hoor dat dit Petrus is wat praat, was sy so bly dat sy nie die deur oopgemaak het nie. Sy het in die huis ingehardloop en vir die mense vertel dat Petrus voor die deur staan. Maar hulle het vir haar gesê: “Jy is mal!” Sy het aangehou om te sê sy is seker dat dit Petrus is. Hulle sê toe: “Dit is Petrus se engel.” Maar Petrus het aangehou om aan die deur te klop. Nadat hulle die deur oopgemaak het, het hulle gesien dit is Petrus en hulle was baie verbaas. Petrus het met sy hand vir hulle gewys om stil te bly. Toe vertel hy vir hulle hoe die Here hom uit die tronk gelei het. Hy het ook gesê: “Julle moet hierdie dinge vir Jakobus en die ander gelowiges vertel.” Toe het hy uit die huis gegaan na 'n ander plek. Die volgende dag was die soldate baie geskok en ontsteld oor wat met Petrus gebeur het. Herodes het gesê hulle moet vir Petrus gaan soek, maar hulle het hom nie gekry nie. Herodes het toe die wagte baie uitgevra en toe het hy gesê dat mense die wagte moet wegvat en doodmaak. Later het Herodes van die provinsie Judea na die stad Sesarea gegaan en hy het daar 'n tyd lank gebly.

HANDELINGE 12:5-19 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

So is Petrus dan in die gevangenis bewaak; maar daar het 'n aanhoudende gebed tot God deur die gemeente vir hom opgegaan. En toe Herodes hom wou voorbring, het Petrus in daardie nag tussen twee soldate geslaap, met twee kettings geboei, en wagte voor die deur het die gevangenis bewaak. En meteens staan daar 'n engel van die Here by hom, en 'n lig skyn in die gevangenis. Toe slaan hy Petrus op die sy, maak hom wakker en sê: Staan gou op! En die boeie het van sy hande afgeval. En die engel sê vir hom: Omgord jou en trek jou skoene aan! En hy het dit gedoen. Verder sê hy vir hom: Gooi jou bo-kleed om en volg my! En hy het uitgegaan en hom gevolg; en hy het nie geweet dat wat deur die engel plaasgevind het, werklikheid was nie, maar hy het gemeen dat hy 'n gesig sien. En toe hulle by die eerste en die tweede wag verbygegaan het, kom hulle by die ysterpoort wat na die stad lei, en dit het vanself vir hulle oopgegaan. En hulle het buitekant gekom en een straat ver gegaan, en dadelik het die engel hom verlaat. Toe kom Petrus tot homself en sê: Nou weet ek waarlik dat die Here sy engel gestuur en my gered het uit die hand van Herodes en uit al die verwagtinge van die Joodse volk. En nadat dit vir hom duidelik geword het, kom hy by die huis van Maria, die moeder van Johannes wat ook Markus genoem word, waar baie in die gebed bymekaar was. En toe Petrus aan die deur van die poort klop, het 'n diensmeisie met die naam van Rhodé gegaan om te hoor wie daar was. En sy het die stem van Petrus herken en van blydskap die poort nie oopgemaak nie, maar na binne gehardloop en vertel dat Petrus voor die poort staan. Maar hulle sê vir haar: Jy is van jou verstand af. Maar sy het volgehou dat dit so is. Daarop sê hulle: Dit is sy engel. En Petrus het aangehou met klop; en toe hulle oopmaak, sien hulle hom en was verbaas. Maar hy het hulle met die hand gewink om stil te bly en aan hulle vertel hoe die Here hom uit die gevangenis uitgelei het. En hy sê: Vertel dit aan Jakobus en die broeders. En hy het uitgegaan en na 'n ander plek vertrek. En toe dit dag geword het, was daar onder die soldate geen kleine opskudding oor wat van Petrus geword het nie. Daarop het Herodes hom gesoek en nie gekry nie, en die wagte onder verhoor geneem en bevel gegee dat hulle tereggestel moes word. En hy het van Judéa weggegaan na Cesaréa en daar gebly.

HANDELINGE 12:5-19 Afrikaans 1983 (AFR83)

So is hy dan in die tronk bewaak, maar die gemeente het aanhoudend vir hom tot God gebid. Die nag voordat Herodes hom voor die volk sou bring, het Petrus tussen twee soldate geslaap. Hy was met twee kettings geboei, en voor die deur het wagte die tronk bewaak. Meteens staan daar 'n engel van die Here en skyn daar 'n lig in die sel. Die engel vat toe aan Petrus se sy om hom wakker te maak en sê vir hom: “Staan gou op.” Onmiddellik het die boeie van sy hande afgeval. Toe sê die engel vir hom: “Maak jou gordel vas en trek jou skoene aan.” Petrus het dit gedoen, en toe sê die engel vir hom: “Trek jou bokleed aan en kom saam met my.” Petrus het agter die engel aan uitgegaan sonder om te besef dat hy werklik bevry word. Vir hom het dit gelyk asof hy 'n gesig sien. Hulle is by die eerste wag verby en ook by die tweede, en toe hulle by die ysterdeur kom wat na die stad toe lei, het dit vanself vir hulle oopgegaan. Toe hulle buite kom en 'n ent met die straat af was, het die engel vir Petrus skielik verlaat. Toe dring dit tot Petrus deur wat met hom gebeur het en hy dink: nou besef ek eers regtig dat die Here sy engel gestuur het om my uit die hande van Herodes te red en van alles wat die Joodse volk van plan was om te doen. Met dié gedagte is hy na die huis van Maria, die moeder van Johannes wat ook Markus genoem is, waar baie gelowiges saam was om te bid. Hy het aan die voordeur geklop, en 'n diensmeisie met die naam Rodé het kom hoor wie dit is. Toe sy Petrus se stem herken, was sy so bly dat sy nie die deur oopgemaak het nie, maar binnetoe gehardloop het om te vertel dat Petrus by die deur staan. Maar hulle sê vir haar: “Jy is mal.” Toe sy egter daarmee volhou, sê hulle: “Dan is dit sy gees.” Intussen het Petrus aangehou klop. Toe hulle die deur oopmaak en hom sien, was hulle baie verbaas. Hy het met sy hand vir hulle gewys om stil te bly en vir hulle vertel hoe die Here hom uit die tronk uitgelei het. “Vertel dit vir Jakobus en die ander gelowiges,” het hy gesê en na 'n ander plek toe vertrek. Toe dit dag word, was die soldate nie min ontsteld oor wat van Petrus geword het nie. Herodes het hom laat soek, en omdat hulle hom nie kon kry nie, het hy die wagte verhoor en bevel gegee dat hulle doodgemaak moet word. Hierna het Herodes van Judea af na Sesarea toe gegaan en 'n tyd daar gebly.

HANDELINGE 12:5-19 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

So is Petrus dan in die tronk bewaak, maar 'n volgehoue gebed tot God het uit die gemeente vir hom opgegaan. Die nag voordat Herodes hom wou voorbring, was •Petrus aan die slaap tussen twee soldate. Hy was met twee kettings geboei, en voor die deur het wagte die tronk bewaak. Skielik het 'n engel van die Here daar gestaan, en 'n lig het in die sel geskyn. Toe gee hy Petrus 'n stamp teen die sy, maak hom wakker en sê: “Staan gou op!” En die kettings het van sy hande afgeval. Die engel sê toe vir hom: “Omgord jou en trek jou sandale aan!” Hy het so gemaak. Daarop sê die engel vir hom: “Gooi jou bokleed om en volg my!” En hy het uitgegaan en hom gevolg, sonder om te besef dat wat deur die bemiddeling van die engel gebeur het, die werklikheid is. Hy het nog steeds gedink hy sien 'n gesig. Maar toe hulle by die eerste en die tweede wag verby was, het hulle gekom by die ysterpoort wat na die stad lei, en dit het vanself vir hulle oopgegaan. Toe hulle buitekant kom en een straat verder gestap het, het die engel hom meteens verlaat. Toe kom Petrus tot homself en sê: “Nou besef ek waarlik die Here het sy engel gestuur, en Hy het my gered uit die hand van Herodes en ook van alles wat die Joodse volk verwag het.” Met dié besef gaan hy toe na die huis van Maria, die moeder van Johannes, bekend as Markus, waar daar baie mense byeen was en gebid het. Toe hy aan die deur van die poort klop, het 'n diensmeisie met die naam van Rode gegaan om te antwoord. Sy het Petrus se stem herken, en uit pure vreugde nie die deur oopgemaak nie, maar binnetoe gehardloop en vertel dat Petrus voor die poort staan. Hulle het egter vir haar gesê: “Jy is mal!” Maar sy het volgehou dat dit so is. Toe sê hulle: “Dit is sy engel.” Petrus het egter aanhou klop, en toe hulle oopmaak, het hulle hom gesien, en hulle was verbaas. Maar hy het met 'n handgebaar vir hulle beduie om stil te bly en vir hulle beskryf hoe die Here hom uit die tronk uitgelei het. Toe sê hy: “Vertel dit aan Jakobus en die broers.” En hy het buitentoe gegaan en na 'n ander plek vertrek. Teen dagbreek was daar onder die soldate geen geringe opskudding oor wat dan van Petrus geword het nie. Herodes het hom laat soek, maar nie gekry nie, en nadat hy die wagte verhoor het, het hy opdrag gegee dat hulle tereggestel word. Hierna het hy van Judea na Caesarea gereis en daar gebly.

HANDELINGE 12:5-19 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Petrus is dan in die gevangenis gehou, maar die gemeente het onophoudelik vir hom tot God gebid. En toe Herodes hom sou gebring het, het Petrus dieselfde nag tussen twee soldate geslaap, vasgebind met twee kettings; en die wagte voor die deur het die gevangenis bewaak. En kyk, die engel van die Here het op hom gekom, en 'n lig het in die gevangenis geskyn, en hy het Petrus op die sy geslaan en hom opgerig en gesê: Staan gou op! En sy kettings het van sy hande afgeval. En die engel sê vir hom: Omgord jou en bind jou skoene aan. En so het hy gedoen. En hy sê vir hom: Gooi jou kleed om jou en volg My. En hy het uitgegaan en hom gevolg; en het nie geweet dat dit waar was wat deur die engel gedoen is nie; maar gedink hy sien 'n visioen. Toe hulle verby die eerste en die tweede afdeling was, het hulle by die ysterpoort gekom wat na die stad lei; en hulle het uitgegaan en deur een straat gegaan; en dadelik het die engel van hom gewyk. En toe Petrus tot homself kom, sê hy: Nou weet ek vir seker dat die Here sy engel gestuur het en my verlos het uit die hand van Herodes en uit al die verwagting van die mense van die Jode. En nadat hy die saak oorweeg het, kom hy by die huis van Maria, die moeder van Johannes, wie se van Markus was; waar baie bymekaar was om te bid. En toe Petrus aan die deur van die poort klop, het 'n meisie met die naam Rhoda gekom om te luister. En toe sy Petrus se stem herken, het sy die poort nie van blydskap oopgemaak nie, maar ingehardloop en vertel hoe Petrus voor die poort staan. En hulle sê vir haar: Jy is mal. Maar sy het voortdurend bevestig dat dit selfs so was. Toe sê hulle: Dit is sy engel. Maar Petrus het aanhou klop, en toe hulle die deur oopmaak en Hom sien, was hulle verbaas. Maar hy het hulle met die hand beduie om te swyg, en aan hulle vertel hoe die Here hom uit die tronk gebring het. En hy sê: Gaan vertel hierdie dinge aan Jakobus en die broeders. En hy het weggegaan en na 'n ander plek gegaan. En toe dit dag geword het, was daar geen geringe beroering onder die soldate, wat van Petrus geword het nie. En toe Herodes hom gesoek het en hom nie gekry het nie, het hy die wagte ondersoek en bevel gegee dat hulle gedood moes word. En hy het van Judéa afgegaan na Cesaréa en daar gebly.

HANDELINGE 12:5-19 Die Boodskap (DB)

Terwyl Petrus in die tronk was, het die gemeente baie ernstig tot God gebid dat Hy hom moes help. Die nag voordat Petrus voor Herodes sou verskyn, het hy tussen twee wagte aan die slaap geraak. Hy was vasgemaak met twee swaar kettings. Voor die tronk se deur was daar ook ’n paar wagte wat diens gedoen het. Skielik het ’n engel van die Here in die tronk verskyn. Hy het alles rondom hom helder verlig. Petrus het so vas geslaap dat hy dit nie eens agtergekom het nie. Die engel moes hom toe wakker skud. “Staan dadelik op!” het die engel gesê. Die kettings om Petrus se hande het vanself losgegaan. “Sit jou belt aan,” het die engel hom beveel. “En kry ook ’n paar skoene aan jou voete.” Toe Petrus dit alles gedoen het, het die engel vir hom gesê om sy bokleed aan te trek en agter hom aan te kom. Petrus het agter die engel begin aanstap. Hy het gedink dat hy weer besig was om ’n visioen te sien. Intussen het hulle by al die wagte verbygestap tot reg voor die groot ysterhek wat na die stad toe lei. Die hek het vanself oopgegaan. Die engel en Petrus het saam buitetoe gestap. ’n Straatblok van die tronk af het die engel skielik verdwyn. Petrus het toe eers besef dat hy nie besig was om te droom nie. Opgewonde het hy vir homself gesê: “Die Here het regtig ’n engel gestuur om my uit Herodes se hande te kom red. Hy het gesorg dat ek nie voor die Jode verhoor hoef te word nie.” Petrus het vinnig na die huis van Maria, die ma van Johannes Markus, gestap. ’n Groot groep gelowiges het daar saamgebid. Toe hy aan die voordeur klop, het ’n bediende met die naam Rodé kom kyk wie dit was. Sy was bly toe sy hoor dat dit Petrus is. Sy het na binne gehardloop en opgewonde vir almal gesê: “Petrus staan by die deur!” Maar die gelowiges het haar nie geglo nie. “Jy is van jou kop af!” het hulle gesê. “Nee, dit is so. Dis regtig so,” het sy aanhou sê. “Dalk is dit sy beskermengel,” het hulle gesê. Terwyl almal stry oor wie by die voordeur kon wees, het Petrus aangehou klop. Uiteindelik het hulle die deur kom oopmaak. Hulle kon hulle oë nie glo nie. Onder al die opgewondenheid deur het Petrus hulle stilgemaak en vir hulle vertel hoe die Here hom uit die tronk bevry het. “Gaan sê asseblief vir Jakobus en die ander gelowiges wat gebeur het,” het hy bygevoeg. Daarna het hy na ’n ander plek vertrek. Die volgende dag was daar chaos onder die soldate wat Petrus opgepas het. Hulle kon nie verklaar hoe hy so spoorloos kon verdwyn nie.Herodes het dadelik ’n groot soektog na Petrus op tou gesit. Hulle kon hom nêrens opspoor nie. Herodes was so kwaad daaroor dat hy die wagte wat Petrus moes oppas, laat teregstel het. Daarna het hy besluit om ’n ruk lank in sy paleis in Sesarea te gaan bly.

HANDELINGE 12:5-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

So is Petrus dan in die tronk bewaak. Die kerk het aanhoudend vir hom tot God gebid. Die nag voordat Herodes hom in die openbaar sou verhoor, het Petrus tussen twee soldate geslaap terwyl hy met twee kettings geboei was en ander wagte die tronkdeur bewaak. Meteens staan daar ’n engel van die Here by Petrus, en ’n lig skyn in die sel. Die engel stoot toe aan Petrus se sy, en maak hom wakker en sê: “Staan gou op!” Die boeie het van sy polse afgeval. Toe sê die engel vir hom: “Maak vas jou belt en trek jou sandale aan.” Hy het so gemaak. Daarna sê die engel vir hom: “Trek jou bo-kleed aan en kom agter my aan.” Petrus het hom uit die sel gevolg. Hy het nie besef dat die optrede van die engel werklikheid was nie, maar het gedink hy sien ’n gesig. Hulle is by die eerste wag verby en ook by die tweede, en toe hulle by die ysterhek kom wat na die stad toe lei, het dit vanself vir hulle oopgegaan. Hulle het buitentoe gegaan en ’n ent met die straat af gestap. Toe het die engel Petrus skielik verlaat. Uiteindelik dring dit tot Petrus deur wat met hom gebeur het en hy sê vir homself: “Nou besef ek eers regtig dat die Here sy engel gestuur het en my uit die mag van Herodes gered het en van die kwaad wat die Jode gehoop het om my aan te doen!” Toe dit vir hom duidelik geword het, is hy na die huis van Maria, die ma van Johannes (sy noemnaam is Markus), waar ’n taamlike groep saam was en gebid het. Hy het aan die buitedeur geklop, en ’n diensmeisie met die naam Rodé het kom hoor wie dit is. Toe sy Petrus se stem herken, het sy van blydskap nie die deur oopgemaak nie, maar binnetoe gehardloop en uitgeroep dat Petrus by die buitedeur staan! Maar hulle het vir haar gesê: “Jy is skoon van jou wysie af!” Toe sy egter daarmee volhou, het hulle gesê: “Dan is dit seker Petrus se engel.” Intussen het Petrus weer geklop. Toe hulle oopmaak en hom sien, was hulle baie verbaas. Hy het met sy hand vir hulle beduie om stil te raak en vir hulle vertel hoe die Here hom uit die tronk uitgelei het. “Vertel vir Jakobus en die ander gelowiges wat gebeur het,” het hy gesê. Hy is buitentoe, en het elders heen vertrek. Toe dit dag word, was daar groot ontsteltenis onder die soldate oor wat van Petrus geword het. Herodes Agrippa het hom laat soek. Toe hulle hom nie kon kry nie, het hy die wagte verhoor en bevel gegee dat hulle tereggestel word. Hierna het Herodes van Judea na Sesarea toe gegaan en ’n tyd daar gebly.