Handelinge 10:9-23

Handelinge 10:9-23 AFR20

Die volgende dag, terwyl hulle op reis was en al amper by die stad, het Petrus teen ongeveer die sesde uur na die dakstoep opgeklim om te gaan bid. Hy het honger geword en wou eet. Terwyl hulle besig was om die maaltyd voor te berei, het hy in geestesvervoering geraak. Hy sien toe die hemel geopen, en iets soos 'n groot linnedoek wat afsak en aan sy vier hoeke op die aarde neergelaat word. Daarin was allerhande viervoetige en kruipende diere van die aarde en voëls van die hemel. Toe kom daar 'n stem tot hom: “Staan op, Petrus, slag en eet!” Maar Petrus het geantwoord: “Onder geen omstandighede nie, Here! Want ek het nog nooit iets wat besoedel of •onrein is geëet nie. ” Maar die stem het weer, 'n tweede keer, na hom gekom: “Wat God rein gemaak het, mag jy nie as onrein beskou nie.” Dit het drie maal gebeur, en die voorwerp is dadelik weer in die hemel opgeneem. Petrus was nog aan die twyfel oor wat die visioen wat hy gesien het, kon beteken, toe die mans wat deur Cornelius gestuur is, skielik by die poort aankom, nadat hulle oor Simon se huis navraag gedoen het. Hulle roep toe en vra of Simon, ook bekend as Petrus, daar tuisgaan. Terwyl Petrus nog nadink oor die visioen, sê die Gees vir hom: “Kyk, daar is drie manne wat na jou soek. Maak gereed, klim af en gaan sonder aarseling saam met hulle, want Ek het hulle gestuur.” En Petrus het afgeklim na die mans en gesê: “Kyk, dit is vir my wat julle soek. Waarom is julle hier?” En hulle het geantwoord: “Cornelius, die centurio, 'n regverdige en godvresende man, iemand oor wie die hele Joodse volk goeie getuienis gelewer het, het deur 'n heilige engel 'n openbaring ontvang om u na sy huis te laat kom en te luister na u woorde.” Toe het Petrus hulle binnegenooi en as gaste verwelkom. En nadat hy die volgende dag gereedgemaak het, het hy saam met hulle vertrek, en sommige van die broers uit Joppe het hom vergesel.

Gratis leesplanne en oordenkings oor Handelinge 10:9-23

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid