Handelinge 1:4-14

Handelinge 1:4-14 AFR20

Terwyl Hy met hulle saamgeëet het, het Hy hulle beveel: “Moenie uit Jerusalem weggaan nie, maar bly wag op die Vader se belofte wat julle van My gehoor het. Want Johannes het wel met water gedoop, maar oor nie baie dae nie sal julle met die Heilige Gees gedoop word.” Toe hulle bymekaar was, het hulle Hom gevra: “Here, gaan U in hierdie tyd die koninkryk vir Israel weer oprig?” Maar Hy het hulle geantwoord: “Dit is nie vir julle om die tye en spesifieke geleenthede te ken wat die Vader in sy eie mag bepaal het nie. Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle moet my getuies wees in Jerusalem, in die hele Judea en Samaria, en tot aan die einde van die aarde.” Toe Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle toekyk, en 'n wolk het Hom uit hulle gesigsveld weggeneem. Terwyl hulle, soos Hy weggaan, stip na die hemel bly kyk, staan daar meteens twee mans in wit klere by hulle en vra: “Galileërs, waarom staan en staar julle na die hemel? Hierdie Jesus, wat van julle na die hemel weggeneem is, sal net so terugkom soos wat julle Hom na die hemel sien weggaan het. ” Daarna het hulle van die berg wat as die Olyfberg bekend staan en wat digby Jerusalem was, 'n Sabbatsreis ver, teruggekeer na Jerusalem. Toe hulle daar aankom, het hulle opgegaan na die bovertrek waar hulle gebly het: •Petrus en Johannes, Jakobus en Andreas, Filippus en Thomas, Bartolomeus en Matteus, Jakobus, seun van Alfeus, Simon die Seloot en Judas, die seun van Jakobus. Hulle het almal eensgesind in gebed volhard, saam met die vroue, en ook saam met Maria, die moeder van Jesus, en sy broers.