2 Samuel 8

8
Dawid se oorwinnings
1 Daarna het Dawid die Filistyne verslaan en hulle verneder; Dawid het Meteg-Amma uit die beheer van die Filistyne geneem.
2Hy het ook die Moabiete verslaan en hulle met 'n maatlyn afgemeet terwyl hy hulle op die grond laat lê het: Hy het twee maatlyne afgemeet om te bepaal wie doodgemaak moet word, en een volle maatlyn om te bepaal wie moet bly lewe. Die Moabiete het Dawid se onderdane geword en moes belasting betaal.
3Dawid het ook Hadad-Eser, seun van Regob, die koning van Soba, verslaan toe dié gegaan het om sy beheer oor die gebied langs die Eufraatrivier te herstel. 4Dawid het van hom eenduisend sewehonderd van die strydwabemanning en twintigduisend voetsoldate gevange geneem. Dawid het al die trekperde se hakskeensenings afgekap; hy het net honderd van die trekperde laat oorbly. 5 Toe die Arameërs van Damaskus vir Hadad-Eser, die koning van Soba, te hulp kom, het Dawid twee-en-twintigduisend man uit Aram neergevel. 6 Dawid het by die Arameërs van Damaskus wagposte geplaas. Die Arameërs het Dawid se onderdane geword en moes belasting betaal. Die Here het Dawid te hulp gekom oral waar hy gegaan het.
7 Dawid het die rondeskilde van goud wat die dienaars van Hadad-Eser by hulle gehad het, gevat en dit na Jerusalem gebring. 8Uit Betag en Berotai, stede van Hadad-Eser, het koning Dawid besonder baie brons gevat. 9Toe Toï, die koning van Hamat, hoor dat Dawid die hele leër van Hadad-Eser verslaan het, 10het Toï sy seun Joram na koning Dawid gestuur om te vra hoe dit met hom gaan en om hom geluk te wens omdat hy teen Hadad-Eser oorlog gemaak en hom verslaan het, want Hadad-Eser was altyd in gevegte gewikkel met Toï. Joram het voorwerpe van silwer, goud en brons saamgebring. 11Ook dit het koning Dawid aan die Here gewy; dit was saam met die silwer en goud wat hy gewy het, afkomstig van al die nasies wat hy onderwerp het – 12van Aram, Moab, die Ammoniete, die Filistyne en die Amalekiete. Daarby was ook van die buit van Hadad-Eser, seun van Regob, die koning van Soba. 13 So het Dawid naam gemaak. Toe hy teruggekeer het nadat hy die Edomiete verslaan het in die Soutvallei – agttienduisend van hulle – 14het hy in Edom wagposte geplaas. In die hele gebied van die Edomiete het hy wagposte geplaas, en al die Edomiete het Dawid se onderdane geword. Die Here het Dawid te hulp gekom oral waar hy gegaan het.
Dawid se amptenare
15Dawid het oor die hele Israel regeer, en hy het vir sy hele volk gedoen wat reg en billik is. 16Joab, seun van Seruja, was in bevel van die leër, en Josafat, seun van Agilud, was die herout. 17Sadok, seun van Agitub, en Agimeleg, seun van Abjatar, was priesters; Seraja was sekretaris, 18en Benaja, seun van Jojada, was in bevel van die Kreti en Pleti. Dawid se seuns was priesters.

Tans Gekies:

2 Samuel 8: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid