2 Samuel 7:1-16

2 Samuel 7:1-16 AFR20

Toe die koning gevestig was in sy paleis, en die HERE hom rus gegee het van al sy vyande rondom hom, het die koning vir Natan, die profeet, gesê: “Begryp tog, ek woon in 'n huis van sederhout, terwyl die ark van God in 'n tent gehuisves word.” Natan antwoord toe die koning: “Gaan doen alles wat u in gedagte het, want die HERE is met u.” Maar in daardie nag het dit gebeur – die woord van die HERE het tot Natan gekom: “Gaan sê vir my dienskneg, vir Dawid, ‘So sê die HERE: “Gaan jý vir My 'n huis bou om in te woon? Ek het mos nie in 'n huis gewoon vanaf die dag dat Ek die Israeliete laat optrek het uit Egipte tot vandag toe nie. Ek het altyd rondgetrek in 'n tent en 'n •tabernakel. Het Ek ooit, oral waar Ek rondgetrek het onder al die Israeliete, met een van die stamme van Israel, wat Ek aangestel het om my volk Israel op te pas, die saak aangeroer en gesê, ‘Waarom het julle nie vir My 'n huis van sederhout gebou nie?’ ” Daarom, so moet jy sê vir my dienskneg, vir Dawid, ‘So sê die HERE, Heerser oor alle magte: “Ek is die Een wat jou uit die weiveld agter die kleinvee weggeneem het om 'n leier te wees oor my volk Israel. Ek was met jou oral waar jy gegaan het, en Ek het al jou vyande voor jou uitgeroei. Ek sal vir jou 'n groot naam maak soos die naam van die grotes wat op aarde is. Ek sal vir my volk, vir Israel, 'n plek aanwys; Ek sal hom plant, en hy sal op sy plek woon en nie weer beef van angs nie. Skurke sal hom nie meer verdruk soos vroeër nie, soos van die dag af dat Ek rigters oor my volk Israel aangestel het. En Ek sal jou rus gee van al jou vyande. “ ‘ “Die HERE maak aan jou bekend dat Hy, die HERE, 'n huis vir jou sal oprig. Wanneer jou tyd aangebreek het en jy by jou voorvaders gaan rus, sal Ek jou nakomeling ná jou, hy wat uit jou liggaam sal voortkom, na vore laat tree, en Ek sal sy koningskap vestig. Hy is die een wat vir my Naam 'n huis sal bou, en Ek sal sy koninklike troon vir altyd laat vasstaan. Ek sal vir hom 'n vader wees, en hy sal vir My 'n seun wees. Daarom, wanneer hy afdwaal, sal Ek hom straf met 'n stok wat manne gebruik en met houe wat mense toedien. Maar my troue liefde sal nie van hom wyk nie, soos wat Ek dit aan Saul onttrek het wat Ek voor jou verwyder het. Jou huis en jou koningskap sal vir altyd bestendig wees voor My, jou troon sal vir altyd in stand bly.” ’ ”