Seba het by al die stamme van Israel langs gegaan na Abel en Bet-Maäga en na al die Beriete. Hulle het byeengekom en die stad binnegegaan, ook agter hom aan. Joab se manne het gekom en hom in Abel-Bet-Maäga beleër. Hulle het 'n beleëringswal teen die stad opgehoop, sodat dit in posisie was by die verdedigingswal. Terwyl al die manskappe by Joab verwoesting aangerig het om die stadsmuur te laat val, het 'n wyse vrou uit die stad geroep: “Luister, luister! Sê julle asseblief vir Joab, ‘Kom nader hierheen, ek wil met u praat.’ ” Toe hy nader gaan na haar, sê die vrou: “Is u Joab?” “Dit is ek,” antwoord hy. Sy sê toe vir hom: “Luister na die woorde van u dienares.” “Ek luister,” het hy gesê. Daarop sê sy: “In die verlede het hulle altyd gesê, ‘Doen maar net navraag in Abel,’ en so is die saak besleg. Ek praat namens die vredeliewendes van die getroues in Israel. U probeer om 'n stad, ja, 'n moeder in Israel, dood te maak. Waarom wil u die eiendom van die HERE verslind?” Joab het egter geantwoord en gesê: “Ek sal dit nooit ooit doen nie! Ek sal nie verslind nie en ek sal nie vernietig nie. Dit is nie waaroor dit gaan nie; maar 'n man uit die heuwelland van Efraim – Seba, seun van Bigri, is sy naam – het sy hand gelig teen die koning, teen Dawid. Lewer hom alleen uit, dan sal ek wegtrek van die stad af.” Toe sê die vrou vir Joab: “Goed, sy kop sal na u van die stadsmuur af gegooi word.”
Die vrou het met haar wysheid na al die mense gegaan. Hulle het Seba, seun van Bigri, se kop afgekap en na Joab gegooi. Hy het toe op die ramshoring geblaas, en hulle het uiteengegaan, weg van die stad, elkeen na sy tente toe. Joab het teruggekeer na Jerusalem, na die koning.
Joab was in bevel van die hele leër in Israel, en Benaja, seun van Jojada, van die Kreti en Pleti. Adoniram was in bevel van die dwangarbeid, en Josafat, seun van Agilud, was die herout. Sewa was sekretaris, en Sadok en Abjatar was priesters. Ook Ira, die man uit Jaïr, het vir Dawid as priester opgetree.