'n Opstoker met die naam Seba, seun van Bigri, 'n Benjaminiet, was toevallig daar. Hy het op die •ramshoring geblaas en gesê:
“Ons het geen aanspraak op Dawid,
geen erfdeel in die seun
van Isai nie;
elkeen na sy tente toe, Israel!”
Al die manne van Israel het toe opgetrek, weg van Dawid af, agter Seba, seun van Bigri, aan. Maar die manne van Juda was aan hulle koning se sy van die Jordaan af tot by Jerusalem.
Toe Dawid by sy paleis in Jerusalem aankom, het die koning die tien vroue, die byvroue wat hy agtergelaat het om die paleis op te pas, geneem en hulle geplaas in 'n plek van veilige bewaring. Hy het aan hulle kos voorsien, maar hy het nie by hulle ingegaan nie. Hulle was afgesonder tot die dag van hulle dood – 'n lewenslange weduweeskap.
Die koning het vir Amasa gesê: “Roep vir my die manne van Juda binne drie dae op. Jy moet self ook hier kom staan.” Amasa het toe gegaan om Juda op te roep, maar hy is langer opgehou as die vaste tyd wat vir hom bepaal is.
Toe sê Dawid vir Abisai: “Nou gaan Seba, seun van Bigri, ons meer kwaad aandoen as Absalom. Neem jy dan die dienaars van jou heer en sit hom agterna, anders sal hy vir hom versterkte stede kan vind en ons groot skade aandoen. ” Die manne van Joab, die Kreti en Pleti en al die helde het agter hom aan uitgetrek. Hulle het uit Jerusalem getrek om Seba, seun van Bigri, te agtervolg.
Hulle was naby die groot klip wat by Gibeon is, maar Amasa het voor hulle daar aangekom. Joab het sy gevegskleed as gewone drag aangehad en bo-oor, om sy heupe, was 'n lyfband met 'n swaard in sy skede vasgemaak. Toe hy vorentoe beweeg, het die swaard uitgeval. Joab het vir Amasa gesê: “Gaan dit goed met jou, my broer?” En toe gryp Joab met die regterhand Amasa se baard om hom te soengroet. Amasa het egter nie rekening gehou met die swaard wat in Joab se ander hand was nie. Hy het hom daarmee in die maag gesteek, sodat sy ingewande op die grond uitgestort het. Hy het gesterf sonder dat hy hom 'n tweede keer gesteek het. Joab en Abisai, sy broer, het toe vir Seba, seun van Bigri, agternagesit. Een van Joab se jong manne het by Amasa bly staan en gesê: “Wie Joab goedgesind is en wie vir Dawid is, volg Joab!” Amasa het nog lê en rondkrul in sy bloed in die middel van die pad, en toe die man sien dat al die manskappe gaan staan, het hy Amasa uit die pad uit gerol, die veld in. Hy het 'n kledingstuk oor hom gegooi nadat hy gesien het dat elkeen wat by hom kom, gaan staan. Nadat hy uit die pad verwyder is, het al die manne verbygegaan agter Joab aan om Seba, seun van Bigri, te agtervolg.