Die HERE het Natan na Dawid gestuur. Toe hy by hom kom, het hy vir hom gesê: “Daar was twee mans in 'n sekere dorp. Die een was ryk en die ander was arm. Die ryk man het besonder baie kleinvee en beeste gehad, en die arm man het niks behalwe een klein ooilam gehad nie, wat hy gekoop het. Hy het haar aan die lewe gehou, en sy het by hom grootgeword saam met sy kinders. Sy het selfs van sy stukkie brood geëet, uit sy beker gedrink en op sy skoot geslaap. Sy was vir hom soos 'n dogter. Toe daar 'n besoeker by die ryk man opdaag, was hy te jammer om van sy kleinvee of beeste te neem om vir die reisiger wat by hom opgedaag het, iets voor te berei. Hy neem toe die ooilam van die arm man, en berei 'n ete voor vir die man wat by hom aangekom het.” Dawid het baie kwaad geword vir daardie man. Hy het vir Natan gesê: “So waar as die HERE leef, die man wat dit gedoen het, verdien die dood. Die ooilam moet hy viervoudig vergoed, omdat hy hierdie daad gedoen het en nie die arm man jammer gekry het nie.” Toe sê Natan vir Dawid: “Jy is die man! So sê die HERE, die God van Israel, ‘Ek is die Een wat jou as koning gesalf het oor Israel, en Ek is die Een wat jou gered het uit die hand van Saul. Ek het vir jou die huis van jou heer gegee, en die vroue van jou heer in jou arms. Ek het vir jou die huis van Israel en Juda gegee. As dit te min was, sou Ek vir jou soveel meer kon byvoeg. Waarom het jy die woord van die HERE geminag deur kwaad te doen in my oë? Urija, die Hetiet, het jy met die swaard neergevel. Sy vrou het jy vir jou as vrou geneem, en hom het jy deur die swaard van die Ammoniete vermoor.
Lees 2 Samuel 12
Deel
Vergelyk alle weergawes: 2 Samuel 12:1-9
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's