Daar was egter ook vals profete onder die volk, soos daar ook onder julle vals leraars sal wees, wat vernietigende ketterye sal insmokkel, en selfs die Heer wat hulle vrygekoop het, verloën. So bewerk hulle 'n skielike ondergang vir hulleself. Baie sal die losbandighede navolg van daardie mense deur wie se toedoen die pad van die waarheid belaster word. Deur hebsug gedrewe, sal hulle julle met versinde argumente uitbuit. Hulle vonnis staan reeds lankal gereed; ja, hulle ondergang talm nie. Trouens, as God die engele wat gesondig het, nie gespaar het nie, maar hulle oorgelewer het, deur hulle met boeie in die digte duisternis van Tartarus te werp, en hulle so tot met die oordeel gevange te hou; en as Hy die antieke wêreld nie gespaar het nie, maar Noag, die boodskapper van •geregtigheid, saam met sewe ander bewaar het, toe Hy die vloed oor die goddelose wêreld gebring het; en as Hy die stede van Sodom en Gomorra tot as verbrand het, toe Hy hulle tot vernietiging veroordeel, en van hulle 'n voorbeeld gemaak het van die dinge wat die goddeloses gaan tref; en as Hy die •regverdige Lot, diep gekwel deur die onsedelike leefwyse van beginsellose mense, gered het – die regverdige man het, terwyl hy onder hulle gewoon het, op grond van wat hy gesien en gehoor het, sy regverdige siel dag in en dag uit oor hulle wettelose optrede gepynig; dan weet die Here tog baie goed om daardie mense wat godvresend leef, uit versoeking te red, maar ook om die onregverdiges tot op die dag van oordeel gevange te hou, sodat hulle gestraf kan word
Lees 2 Petrus 2
Deel
Vergelyk alle weergawes: 2 Petrus 2:1-9
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's