2 Konings 7:3-9

2 Konings 7:3-9 AFR20

Daar was vier mans met 'n velsiekte by die ingang van die stadspoort, en hulle het vir mekaar gesê: “Waarom sal ons hier bly totdat ons sterf? As ons sê, ‘Ons gaan die stad binne,’ en daar is hongersnood in die stad, dan sterf ons daar, en as ons hier bly, dan sterf ons. Daarom, kom ons loop oor na die Arameërs se kamp. As hulle ons laat lewe, dan leef ons, en as hulle ons doodmaak, dan sterf ons.” Hulle het toe teen skemerdonker gereedgemaak om na die Arameërs se kamp te gaan. Toe hulle by die kant van die Arameërs se kamp kom, kyk, toe is daar niemand nie! Die Heer het die leër van die Arameërs die geluid van strydwaens en perde, die geluid van 'n groot mag, laat hoor, en hulle het vir mekaar gesê: “Kyk, die koning van Israel het die konings van die Hetiete en die konings van Egipte teen ons gehuur om ons te oorval!” Hulle het toe opgespring en in die skemerdonker gevlug. Hulle het hulle tente, hulle perde en donkies – die kamp soos dit was – agtergelaat, en asof vir hulle lewens gevlug. Toe hierdie manne met die velsiekte by die kant van die kamp kom, het hulle in 'n tent ingegaan en geëet en gedrink. Hulle het silwer en goud en klere daarvandaan weggedra en dit gaan wegsteek. Hulle het teruggekom, in 'n ander tent ingegaan en ook van wat daar was, weggedra en dit gaan wegsteek. Maar toe sê hulle vir mekaar: “Dit is nie reg wat ons doen nie. Hierdie dag is 'n dag van goeie nuus en ons hou dit stil. As ons wag tot daglig, sal ons skuldig staan. Kom ons gaan dan nou en bring die nuus aan die koninklike paleis.”