2 Konings 6:8-17

2 Konings 6:8-17 AFR20

Die koning van Aram was besig om oorlog te voer teen Israel. Nadat hy met sy amptenare beraadslaag het, sê hy: “By so-en-so 'n plek sal my kamp wees.” Maar die man van God het vir die koning van Israel laat weet: “Wees versigtig om nie by hierdie plek verby te trek nie, want die Arameërs val daarheen terug. ” Daarom het die koning van Israel 'n boodskap gestuur na die plek wat die man van God vir hom aangewys en waarteen hy hom gewaarsku het. Hulle was daar toe op hulle hoede. Dit het nie net een of twee keer gebeur nie. Die koning van Aram was ontsteld hieroor, en het sy amptenare ontbied en vir hulle gesê: “Kan julle my nie inlig wie van ons vir die koning van Israel is nie?” Een van sy amptenare het geantwoord: “Nie een van ons nie, my heer die koning; maar Elisa, die profeet wat in Israel is, deel die koning van Israel die woorde mee wat u in u slaapkamer praat.” Daarop sê hy: “Gaan kyk waar hy is, sodat ek hom kan laat vang.” Toe daar aan hom berig gebring is, “Kyk, hy is in Dotan! ” het hy perde en strydwaens en 'n sterk mag daarheen gestuur. Hulle het in die nag gekom en die dorp omsingel. Toe die dienaar van die man van God vroeg opstaan en uitgaan, was daar sowaar 'n leërmag met perde en strydwaens om die dorp! Sy dienaar sê toe vir hom: “Ag, my heer, wat moet ons doen?” Maar hy het geantwoord: “Moenie bang wees nie, want hulle wat by ons is, is meer as dié wat by hulle is.” Elisa het toe gebid en gesê: “HERE, maak tog sy oë oop, dat hy kan sien!” Daarop het die HERE die dienaar se oë oopgemaak, en hy sien toe – sowaar, die berg rondom Elisa is vol perde, en strydwaens van vuur!