2 Konings 22:1-10

2 Konings 22:1-10 AFR20

Josia was agt jaar oud toe hy koning geword het, en hy het een-en-dertig jaar lank as koning geheers in Jerusalem. Sy moeder se naam was Jedida, dogter van Adaja, uit Boskat. Hy het gedoen wat reg is in die oë van die HERE. Hy het in alle opsigte die pad van sy voorvader Dawid gevolg en nie links of regs daarvan afgewyk nie. In die agttiende regeringsjaar van koning Josia het die koning vir Safan, seun van Asalja, seun van Mesullam, die sekretaris, na die huis van die HERE gestuur met die opdrag: “Gaan op na Gilkija, die hoëpriester, en laat hy die geld gereedkry wat in die huis van die HERE ingebring is, die geld wat die deurwagters by die volk ingesamel het. Hulle moet dit oorhandig aan die voormanne wat aangestel is by die huis van die HERE, sodat hulle dit op hulle beurt vir die manne kan gee wat die werk doen, dié wat in die huis van die HERE is om die bouvallige plekke in die •tempel te herstel, aan die skrynwerkers, die bouers en die messelaars, om hout en gekapte klip te koop vir die herstel van die tempel.” Daar is egter nie van hulle rekenskap geëis oor die geld wat aan hulle oorhandig is nie, want hulle was betroubaar in hulle werk. Gilkija, die hoëpriester, sê toe vir Safan, die sekretaris: “Dié •boekrol met die wet het ek in die huis van die HERE gevind.” Gilkija het die boekrol vir Safan gegee, en hy het dit gelees. Toe Safan, die sekretaris, by die koning kom, het hy aan die koning verslag gedoen en gesê: “U dienaars het die geld wat in die tempel gevind is, uitgeskud en dit oorhandig aan die werksmense wat aangestel is by die huis van die HERE.” Toe lig Safan, die sekretaris, die koning in: “Hier is 'n boekrol wat Gilkija, die priester, vir my gegee het.” Safan lees dit toe vir die koning.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid