As medewerkers van God doen ons 'n ernstige beroep op julle om nie die genade van God tevergeefs te ontvang nie! Want Hy sê:
“Op die regte tyd
het Ek na jou geluister,
en op die dag van verlossing
het Ek jou gehelp.”
Kyk, nou is die gunstige tyd,
kyk, nou is die dag van verlossing!
Ons gee in geen opsig enige aanstoot aan iemand nie, sodat daar nie met die bediening foutgevind kan word nie. Maar in alles beveel ons onsself aan as dienaars van God, met groot uithouvermoë:
in verdrukkings, in ontberings, in benoudhede;
geslaan, in tronke gegooi, in oproere en in swaar arbeid, in slaaploosheid en honger;
met eerbaarheid, begrip, verdraagsaamheid en vriendelikheid, in die Heilige Gees, en met ongeveinsde liefde;
met die woord van die waarheid, met die krag van God, met die wapens van •geregtigheid vir die regterhand en die linkerhand; te midde van eer en oneer, te midde van laster en lof, as misleiers, wat tog opreg is;
as onbekendes, en tog goed bekend, as sterwendes – maar kyk, ons leef; as gekastydes, wat tog nie doodgemaak word nie;
as bedroefdes, maar altyd blymoedig, as armes, maar wat baie ander mense ryk maak, as mense wat niks het nie, en tog alles besit.
Ons het reguit met julle gepraat, Korinthiërs; ons harte is wyd oop vir julle. Julle word nie deur ons ingeperk nie, maar julle word deur julleself in julle eie binneste ingeperk. Maar doen dít as teenprestasie – ek praat soos met kinders: Stel julleself ook wyd oop vir ons.
Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie,
want watter vennootskap kan daar wees
tussen reg en onreg?
Of watter verbondenheid kan daar wees
tussen lig en duisternis?
En watter ooreenstemming is daar
tussen •Christus en Belial,
of wat het 'n gelowige gemeen
met 'n ongelowige?
En watter ooreenkoms
het die tempel van God
met afgode?
Want ons is die tempel van die lewende God – soos God gesê het:
“Ek sal onder hulle woon
en saam met hulle wandel;
Ek sal hulle God wees,
en hulle sal my volk wees.”
Daarom:
“Gaan uit hulle midde uit
en sonder julle af,” sê die Here,
“en moenie aanraak wat •onrein is nie.”
“En Ek sal julle aanneem,”
en
“Ek sal vir julle 'n vader wees,
en julle sal my seuns en dogters wees,”
sê die Here, die Almagtige.